Dwarsdeur jou skoolloopbaan word matriek (gr. 12) as die topjaar beskou, die jaar wanneer jy verslag doen van dit wat jy die afgelope dekade geleer het – en die jaar se uitslae volg jou jou lewe lank.

Wat ouers en leerders egter nie besef nie, is dat gr. 11 net so belangrik is, indien nie belangriker nie. Dit kan eintlik as die finale jaar beskou word, sê ’n deskundige op die gebied van onderwys.

“Daar is vyf redes waarom gr. 11-leerders dié jaar baie ernstig behoort op te neem en net soveel werk daarin moet sit soos wat hulle die volgende jaar doen,” verklaar dr. Felicity Coughlan, direkteur van die Onafhanklike Instituut van Opvoeding, die grootste en mees geakkrediteerde privaat verskaffer van hoër onderwys in Suid-Afrika.

Lees ook: Selfhelpwenke vir stres

Volgens haar is die voorlaaste skooljaar belangrik, want dit verskaf:

1) VERSEKERING

“Die harde werk wat jy in gr. 11 insit, kan beskou word as versekering indien iets in die toekoms sou skeefloop,” sê Felicity. Daar is ’n toenemende getal instellings wat voorlopige aanbiedings maak wat op jou gr. 11-uitslae gegrond is, en baie van hulle sal jou steeds toelaat, al is jou matriek effens swakker. As jou uitslae in gr. 11 egter swak is, is daar niks om op terug te val nie.

2) EKSAMENFOKUS

Volgens Felicity stel onderwysers die gr. 11-eksamenvraestelle só op dat dit die formaat en moeilikheidsgraad van gr. 12 naboots. Dit beteken as jy jou gr. 11-eksamen ernstig opneem, sal jy beter verstaan hoe jy vaar en hoe jy gereed sal wees vir jou eindeksamen. Dit help jou om uit te werk waar ’n bietjie meer aandag nodig is. Vanjaar se eksamen verskaf ’n maatstaf vir hoe ver jy is en dit behoort beskou te word as deel van jou voorbereidings vir jou eindeksamen.

3) KANS OM TE EKSPERIMENTEER

Volgens Felicity gee gr. 11 jou tyd om te eksperimenteer voor die beslissende tyd aanbreek. “Leer nuwe studeer- en stresbeheermetodes aan en eksperimenteer met goed soos studiegroepe en geheuekaarte, wat jy nog nie tevore gedoen het nie. As jy ’n verskeidenheid van studeertegnieke en -benaderings vind wat vir jou werk, sal jy gr. 12 ingaan met ’n hersieningstelsel wat sal sorg dat jy jou heel beste lewer.”

4) KANS OM MET TYD TE EKSPERIMENTEER

As jy behoorlik op die hoogte bly van hoe lank dit jou neem om verskillende soorte werk te bemeester, sal dit jou help om aanstaande jaar ’n akkurate studieplan op te trek. “As jy weet wat jou werktempo is, sal jy hersieningswerk kan doen met genoeg tyd wat reg van die begin af ingeruim is sodat jou dae nie opraak voor jou werk opraak nie.”

5) DIE KANS OM KEUSES VIR NÁ MATRIEK SORGVULDIG TE EVALUEER

As leerders hul gr. 11-uitslae en prestasies bepaal, is hulle bemagtig om beter besluite te neem rakende die rigting wat hulle ná skool wil inslaan, insluitend watter opsies beskikbaar is vir hulle, vir watter kursusse hulle moet inskryf en waar.

Lees ook: Wag, jy kan wát gaan studeer?

“Leerders moet van gr.10 af begin om hul ‘punte’ vir toegang tot hoër opleiding uit te werk,” sê Felicity.

“Dit beteken hulle behoort die kursusse wat hulle wil volg en die uitslae wat hulle nodig het vir hul aansoek om aanvaar te word, deeglik na te vors. Leerders is dan in gr. 11 in staat om te monitor hoe realisties hul aspirasies is en waar hulle nog meer werk moet doen; dit sal onsekerheid verminder wanneer hulle aansoek doen.”

“Matriek begin nie in jou laaste skooljaar nie,” gaan sy voort.

“Matriek is nie ’n eenjaar-gebeurtenis nie, maar eerder ’n tweejaar-projek. As jy nou reeds begin om jou gedagtes op jou eindeksamen te fokus en die langtermyn-oorsig saam met ’n strategie aanwend, sal jy in staat wees om jou beste oor 18 maande te lewer wanneer jy jou eindeksamen skryf. Jy sal dan ook jou kanse om jou drome oor dit wat jy ná matriek gaan doen, aansienlik verbeter.”

Ander stories op Huisgenoot.com:

#GuptaGate: Wie sal die ANC-leisels by pres. Zuma oorneem sou hy waai?

#GuptaGate: Sal die korruptes ooit aan die pen ry?

‘Daar’s ’n Gupta op my stoep!’ Hier’s die snaakste Gupta-fliekname op Twitter

Eendjies, eendjies een-een van Johannesburgse hoofweg deur paramedici gered

Man stel aanlyn profiel as vrou op, met skokkende gevolge

Massamoordenaar Anders Breivik kla oor ‘onmenslike toestand’ van sy tronksel