“Dié tyd van die jaar moet jong mense groot besluite neem wat langtermyngevolge inhou en hulle is dikwels nie opgewasse daarvoor nie,” sê dr. Felicity Coughlan, die direkteur van die Onafhanklike Opvoedingsinstituut.

Felicity sê die beste benadering tot besluite met langtermyngevolge is om nie paniekerig te raak nie. Raak kalm, hou kop en kry so veel moontlik inligting om die beste besluit te kan neem.

Ruim tyd in om die webtuistes van verskeie openbare en privaat naskoolse inrigting te besigtig. Vind uit watter kursusse hulle aanbied en wat die toelatingsvereistes is.

“Dit is belangrik om meer as dit wat jy reeds weet te ondersoek. Selfs al is jy seker oor wat jy ná skool wil doen, kan jy gerus na ander opsies kyk,” sê Felicity.

Wees ook realisties oor jou doelwitte. “Daar is ’n groot verskil tussen ’n droom en ’n doelwit. Ons almal droom daarvan om ’n veearts of vuurpylwetenskaplike te word, maar dit is net ’n realistiese doelwit indien jy weet wat dit gaan verg om daarby uit te kom,” waarsku Felicity. As jy duidelike doelwitte kan neerpen oor hoe jy daardie droom kan bereik, word dit ’n doelwit.

Elmarie Oosthuizen, ’n onderwyseres, stem saam. “Alle matriekvakke verg baie werk; daar is nie ‘maklike’ vakke nie. Beroepsvoorligting en aanlegtoetse help dikwels, maar dit kan ook vals verwagtings skep. Die leerder moet bereid wees om deurlopend hard te werk.”

Elmarie glo ouers kan ook help deur hul kinders aan te moedig en te ondersteun in die drie of wat jaar (gr. 10-12) dat die leerder die vak neem.

Onderwysers op Huisgenoot se Kopskuif-onnies-blad het die volgende raad vir gr. 9’s gehad:

  • Kies vakke wat deure vir jou gaan oopmaak.
  • Byt so lank moontlik vas met wiskunde, maar moenie die risiko loop om nie jou Nasionale Senior Sertifikaat te kry weens ’n enkele vak nie.
  • Kies vakke wat jou uitdaag en kies minstens een waarvan jy hou of waarin jy goed is.
  • Vra meer as een mens om raad, maar hou jou doelwit voor oë.
  • Moenie ’n vak kies (of nie kies nie) op grond van die onderwyser wat dit aanbied nie. Onderwysers kom en gaan, maar jou vakkeuse bly staan.
  • Moenie vakke kies op grond van jou ouers of maats se keuse nie; kyk na jou eie vordering en belangstelling.
  • Doen deeglike navorsing oor die toelatingsvereistes vir kursusse vir die beroepe waarin jy belangstel.
  • Soek na geleenthede sodat jy ’n dag kan deurbring saam met iemand wat ’n beroep beoefen waarin jy belangstel.
  • As jy ’n ekstra vak kan neem, doen dit.

Vakkeuses kan ’n baie traumatiese ervaring vir gr. 9-leerders wees, maar as jy ’n doel voor oë hou, is dit heelwat makliker, sê Felicity. “Maak seker jy het ’n duidelike doelwit!”

Shané Barnard