Huisgenoot was onlangs by African Education Week en was verstom oor die hulpmiddels wat deesdae gratis (kom ons sê dit weer: gratis) tot onderwysers se beskikking is. Die sogenaamde Freedom Toasters of e-Learning Toasters is elektroniese toestelle waarmee onderwysers na hartelus hulpmiddels vir die klaskamer kan aflaai.

Die toestelle lyk min of meer soos ’n menshoogte plastiekboks met ’n platskerm-TV in en is ’n skatkis van lees- en leermateriaal vir kinders van alle ouderdomme. Onderwysers kry toegang tot die materiaal deur óf ’n DVD of geheuestafie (memory stick) in die masjien te druk en die kopie af te laai óf dit via Wi-Fi direk op sy of haar e-tablet of rekenaar te stoor.

Daar is wonderlike dinge op die “toasters” beskikbaar, maar as ons een ding kan uitsonder: Die afgelope twee jaar is die Universiteit Stellenbosch en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement by ’n telematiese onderrigprojek betrokke. Dit behels dat van die voorste onderwysers in die Wes-Kaap weekliks na Stellenbosch gaan om daar in ’n uitstekend toegeruste video-ateljee vir matrieks lesse aan te bied in wiskunde, natuurwetenskappe, lewenswetenskappe, geografie, rekeningkunde, Afrikaans en Engels. Die lesse word dan regstreeks via ’n internetverbinding na behoeftige skole in die Wes- en Noord-Kaap uitgesaai. Dié matrieks kyk na die les op ’n grootskerm in hul eie gemeenskap – dikwels ver van Stellenbosch af. Opnames van hierdie lesse is van die hoogste gehalte en kan gratis deur middel van die e-Learning Toasters afgelaai word sodat matrieks in ander dele van die land ook daarby kan baat vind.

Onderwysers kan die Freedom Toasters op verskeie plekke in die land besoek. Die webtuiste www.breadbin.co.za bevat ’n kaart wat sal wys waar die naaste “toaster” aan jou is. Daar is ook ’n volledige lys van die beskikbare materiaal wat afgelaai kan word. Besoek http://www.freedomtoaster.org/ vir nog inligting.