Die toename in die aantal en erns van voorvalle waarby afknouery in skole betrokke is, is ’n oproep tot dringende en volgehoue tussentrede, waarsku ’n kundige op die gebied van opvoeding.

“Ons hoor amper weekliks van nog ’n desperate leerder of ouer wat die emosionele trauma wat afknouery meebring, moet oorkom; tog bly die reaksie van die gemeenskap en die owerheid reaktief en onsuksesvol,” sê dr. Gillian Mooney, bestuurder van onderrig en leer van die Onafhanklike Instituut vir Opleiding, die vernaamste privaat instituut vir hoër opleiding in Suid-Afrika.

“Die gevalle wat die media haal, is net ’n breukdeel van die mishandeling wat baie kinders deurmaak. Maar die afbrekende gevolge van afknouery laat ’n blywende merk op die lewe van tallose jong mense, en die problem sal eenvoudig aanhou vererger tensy ’n doeltreffende strategie ontwikkel en deurlopend toegepas word,” sê sy.

Mooney sê die nasionale en provinsiale departemente van onderwys het beleide en prosedures oor hoe skole behoort op te tree teen boeliegedrag.

Lees ook: Onnie vind besonderse manier om afknouery met appels te demonstreer

Maar baie meer moet gedoen word om leerders, ouers en skole voortdurend by te staan en op te lei om die veiligheid en welstand van almal op die skoolterrein te verseker, sê sy.

Mooney gee toe die uitdaging is reusagtig en sy sê die krisis met betrekking tot afknouery het betrekking op meer as net skole.

“Die gemeenskap self het ’n virtuele gevegsklub geraak, met voorbeelde van ’n geboelie wat wyd voorkom in byvoorbeeld die sosiale media.

“Mense voel hulle is vry om hulle skokkend te gedra, selfs tot so ’n mate dat antisosiale gedrag amper die norm geword het.”

Die vernaamste doel van boelie is om mag te verkry, sê Mooney, en dit kom daarop neer dat boeliepraktyke ál meer in gemeenskappe voorkom waar inwoners magteloos voel.

“Afknouery het ’n rimpeluitwerking waar dit die boelie, die slagoffer en omstanders is wat geraak word. Ander problematiese huislike omstandighede, byvoorbeeld gesinsgeweld, egskeiding of die dood van ’n ouer, kan ook konteks verskaf waar die boelie negatiewe gedrag aanwend om mag te verkry.”

Sy sê dis belangrik dat hoëprofiel- en maklik bereikbare strukture en prosesse ingestel word om skole te help om die voorkoms van afknouery hok te slaan aangesien onderwysers dikwels voel hul hande is afgekap, en slagoffers voel hulle het geen stem nie. Bowendien behoort boelies self ook toereikende steun en berading te kry.

Lees ook: Afknouery in kinderjare kan verpletterende uitwerking hê

“Die heel belangrikste is dat maniere dringend gevind moet word om die heersende wanbalans ten opsigte van mag aan te raak deur aan te toon dat boelie konsekwent duidelike en gestruktureerde gevolge vir oortreders sal inhou,” sê sy.

“Sommige provinsies het pogings aangewend om strukture en prosesse daar te stel om met afknouery af te reken, maar selfs in daardie gevalle moet meer gedoen word om hierdie ingrypings oor te dra en anti-boelie-prosesse sistematies af te dwing.”

Mooney erken dat gevalle waar afknouery in skole voorkom, nie onderskei kan word van die ingesteldheid en tydgees waarin ons ons as ’n gemeenskap bevind nie.

“Hoewel daar nie ’n kitsoplossing is vir óf die siekte in die breër gemeenskap óf selfs in ons skole nie, is dit ons plig om seker te maak dat die kwesbaarstes onder ons beter beskerm word, en dat hulle bemagtig voel deur die wete dat hulle met die volwassenes rondom hulle kan praat en op hulle kan staatmaak om hulle so ver moontlik te beskerm teen liggaamlike en geestelike skade.

“As daar ’n situasie in ons skole bestaan waar bekende boelies voortgaan om verwoesting te saai in die lewe en toekoms van ander, in die wete dat die stelsel stadig en ondoeltreffend is wat betref optrede teen antisosiale gedrag, doen ons die slagoffer, sowel as ons gemeenskap, ’n verskriklike onreg aan.”

Lees ook: Hanteer afknouery só

GEVAARLIKE WANOPVATTINGS OOR AFKNOUERY

• ONWAAR: VOLWASSENES MOENIE BETROKKE RAAK WANNEER KINDERS GEBOELIE WORD NIE

Volwassenes moet betrokke raak. Onderwysers kan boelies monitor om boeliegedrag te voorkom. Skoolhoofde kan dissipline toepas. Ouers kan dit aan skole rapporteer.

• ONWAAR: SEUNS IS DIE MEES WAARSKYNLIKE SLAGOFFERS

Seuns en meisies is ewe veel onderworpe aan boelie, hoewel dit moontlik op verskillende maniere plaasvind. Seuns sowel as meisies is die teiken van liggaamlike boeliery. Meisies word meer blootgestel aan boelie wat verband hou met familie, seks en die kuberruimte.

• ONWAAR: KINDERS MOET EENVOUDIG TAAIER WORD

Hierdie mite is ’n oorblyfsel van idees soos “seuns sal maar seuns bly” en dat kinders dit “sal oplos”. Afknouery kan werklik skade veroorsaak en dit behoort nie geïgnoreer te word nie.

• ONWAAR: OMSTANDERS MOENIE BETROKKE RAAK WANNEER HULLE SIEN IEMAND WORD GEBOELIE NIE

Daar is bewyse dat omstanders ook geraak word wanneer hulle sien iemand word geboelie. Toekykers gee boelies trouens die gehoor waarna hulle smag. Kinders kan geleer word om afknouery te verminder deur opmerksaam te wees, dit aan te meld en tussenbeide te tree.

• ONWAAR: DIS MAKLIK OM ’N KIND WAT GEBOELIE WORD, UIT TE KEN

Kinders vertel nie hul ouers van alles wat in hul lewe gebeur nie. Volwassenes moet maniere vind om dit makliker te maak vir kinders om afknouery aan te meld, en om doeltreffende opvolgwerk te doen wanneer dit wel aangemeld word.