Dis eksamentyd. Die matrieks studeer al sedert laas maand dat dit bars, en die ander grade het ook vandeesweek begin skryf. Hier's weer 'n paar beproefde studiewenke, terwyl die res van SA vir al dié leerders duim vashou:

  • Maak seker jy kry genoeg slaap. Ons brein funksioneer baie beter wanneer ons uitgerus is. As jy pootuit agter daardie toetslessenaar inskuif, gaan jy uiteraard alles wat jy geleer het heelwat moeiliker onthou.
  • Doen iets lekker om jou te verfris. Gaan stap 'n ent, gaan doen iets saam met 'n pel of speel 'n videospeletjie as jy verby suf begin voel. Geen mens kan net aanhou konsentreer nie.
  • Laat ook jou hande rus. Dit klink dalk vreemd, maar skryftam-hande kan straks in 'n mate jou prestasie beïnvloed. Oorweeg dus om eksamendae 'n stresbal of ander speelding wat stres verlig saam te neem... net om jou hande tussen al die pen vasknyp deur ontspankans te gun.
  • Eet behoorlik en drink baie water. Tussen vraestelle wat kort op mekaar volg, moet jy veral seker maak jy kry gesonde maaltye in wat komplekse koolhidrate, groente en proteïen insluit.
  • Buiten genoeg rus is ligte oefening ook dikwels 'n hupstoot vir 'n tam brein, 'n goeie manier om twyfel en moontlike negatiewe gedagtes te verjaag.
  • Deel jou bloksessies in haalbare dele op. Om te veel inligting op 'n slag te probeer inneem, kan jou fokus laat verloor en angstigheid aanwakker.
  • Maak seker jy begryp werklik jou studieontwerpe. Verduidelik byvoorbeeld aan jouself, in jou eie woorde, wat jy geleer het. Skryf feite in jou eie woorde neer.
  • Jy kan ook eksamentoestande naboots deur vrae te beantwoord met jou selfoon afgeskakel, sonder om met enigeen te praat en terwyl jy tydhou.
  • Wees skeppend met jou studiemetodes. Jy hoef natuurlik nie net met 'n merkpen voor jou boeke te sit nie. Benut soveel moontlik van die tegnieke wat vir jou werk, byvoorbeeld dalk ook gedagtekaarte en oudio- en videomateriaal.

Bronne: wced.school.za, learnersguide.co.za, educonnect.co.za