Selfs in die beste van tye sukkel ouers dikwels om in hul kinders se behoeftes te voorsien. En as jy een ouer wegneem, raak dit ’n ware stryd om die pot aan die kook te hou.

Dit kan nogal uitdagend wees om te dink aan al die uitgawes wat kom met ’n kind grootmaak. Skoolfooie, gesondheidsorg, vermaak en algemene lewenskostes is ’n reuse finansiële verbintenis, en as net een salaris dit alles moet dek, word die behoorlike bestuur van jou geldsake nog belangriker.

Ntombi Mponda van Metropolitan deel wenke vir enkellopende supermammas om hul geldjies te rek:

Moenie die las alleen dra nie: Al is jy ’n enkelouer, is jy nie alleen nie – moet nooit die waarde van jou uitgebreide familie en vriende onderskat nie. Broers, susters, ouers en selfs vriende kan ’n goeie ondersteuningsnetwerk wees en help met aanmoediging, raad en bystand waar nodig. Begin ’n ryklub met vriende om die kinders skool toe en terug te vervoer – so sal jy geld en tyd spaar. Of steun op famililede om na jou kinders om te sien as jy oortyd of naweke moet werk eerder as om ’n oppasser te betaal. Die kinders sal hou van die ekstra tyd saam met hul grootouers, tannies en ooms.

Beplan vooruit: Skoolfooie en ekstra lewenskostes plaas ekstra druk op jou geldsake as jy kinders het. Maar as jy ’n begroting optstel en ’n plan in plek het, sal jy dié uitgawes elke maand beter kan bestuur. Begin so vroeg as wat jy kan vir jou kind se opvoeding spaar. Met ’n spaarpolis sal jou geld veilig wees tot jy dit nodig het.

Koop slim en bespaar: Maak gebruik van winskopies, koeponne en beloningskaarte om geld te spaar as jy jou weeklikse kruideniersware koop. Jy kan ook geld bespaar deur in groot maat te koop. Kyk eers rond voor jy koop, om te verseker jy kry die beste waarde vir jou geld.

Bespaar op tweede kind: As jy vir die tweede keer swanger is, vra familie en vriende of hulle enige babaklere, speelgoed, bababedjies, motorsitplekke, ens. het wat hulle nie meer gebruik nie voor jy nuwes koop. As jy meer as een kind het, hou klere vir jou jonger kinders en maak gebruik van die skool se tweedehandse klerewinkel om geld op duur uniforms te bespaar.

Wees eerlik: Wees altyd openlik en eerlik met jou kinders. As jy finansieel swaar trek, is dit beter om die situasie aan hulle te verduidelik sodat hulle kan verstaan hoekom jy nie vir hulle sekere goed kan koop nie. Ouer kinders kan dalk help deur ’n naweekwerk te kry om tot die huishoudelike uitgawes by te dra.