Gebruik so die eerste keer jou iPad in die klas

Begin jou iPad in die klas gebruik deur klein veranderings aan te bring. Namate jy behendiger raak, kan jy ál meer tradisionele onderrigmetodes met die iPad vervang.

  • Deel jou inhoud met die klas. Koppel jou iPad aan jou digitale projektor en wys vir die leerders inhoud op jou witbord of muur. Gebruik apps wat foto’s, sketse of diagramme bevat en nooi leerders om sekere elemente uit te wys.
  • Moedig leerders aan om hul eie inhoud te skep. Dit kan ’n lekker groepsaktiwiteit word wanneer leerders saam aan die inhoud werk en dit dan op die iPad laai en aan die klas voorlê.
  • Leerders kan self navorsing doen. Wanneer jy klaar ’n les aangebied het, moedig die leerders aan om self op die internet nog inligting oor die onderwerp op te soek.
  • Goeie beplanning bly belangrik. Moenie geflous word omdat die iPad aanvanklik die leerders gaan bekoor nie. Dis uiters belangrik om steeds goed voorbereid te wees. As jy die eerste keer ’n app in die klas gebruik, maak byvoorbeeld vooraf seker die skakels werk.
  • Maak die iPad deel van alledaagse lesse. Moenie spesiale “iPad-klasse” opsysit om die iPad te gebruik nie. Integreer jou iPad met die bestaande leerplan. As jy byvoorbeeld ’n les aanbied oor kreatiewe skryfwerk of die atoom, gaan soek video-opnametjies of apps wat jou les kan aanvul.
  • Verander jou inhoud. Die lekker ding van ’n iPad is dat jy die inhoud van jou lesse kan verander sodra jy sien dit werk nie. Daar is baie apps wat jou kan help om gereeld vars inhoud te skep; dis onnodig om jaar ná jaar dieselfde ding te doen nie.

Watter apps kan jy gebruik?

Apps word spesifiek vir iPad óf Android ontwikkel. Maak dus seker of die app wat jy wil gebruik, op jou tablet sal kan werk. Die beste plek om vir iPad apps te soek, is in die iTunes-winkel. Meer as 100 000 apps, spesifiek vir opvoeding ontwikkel, is hier beskikbaar. Hoewel ’n groot getal apps slegs in Engels beskikbaar is, is daar ook reeds ’n paar in Afrikaans. Party kan gratis afgelaai word. (Gaan loer gerus na die apps wat ons vir die leerders aanbeveel.)

Reëls vir die iPad

Wanneer leerders self met iPads werk, sorg dat hulle die tablette mooi oppas. Deur die volgende reëls toe te pas, kan jy ook seker maak die iPad word nie net nog ’n manier om leerders se aandag van die les af te lei nie.

  • iPad-skerm moet gesluit wees wanneer die onderwyser praat.
  • Net die iPad is op die tafel wanneer dit gebruik word.
  • Gebruik die ouerbeheer op die iPad om sekere inhoud en/of apps op die leerders se iPad te beperk.
  • Geen kos of koeldrank mag naby die iPad kom nie.
  • iPad moet ten alle tye “stil” gestel wees.
  • Sluit die iPads toe op ’n veilige plek wanneer dit nie gebruik word nie.

Onthou

Die iPad is ’n hulpmiddel wat veronderstel is om opvoeding aan te vul, nie om goeie onderrig te vervang nie. Gebruik dit as ’n toestel om jou in die leerproses by te staan deur byvoorbeeld bykomende oefeninge daarop voor te berei.

Daar is geen regte of verkeerde manier om jou iPad in die klas te gebruik nie. Doen navorsing, eksperimenteer en toets apps in die klas sodat jy uitstekende lesse vir jou leerders kan voorberei. En wees bereid om saam te lag wanneer ’n foutjie inglip!