Een van haar gr.4-leerders het Nosicelo Matandabuzo van die Laerskool Putuma benoem as ’n onderwyseres wat ’n verskil maak in hul gemeenskap op Elliotdale in die Oos-Kaap.

ONNIE 2

“Ons gaan pouses na haar ‘biblioteek’ om van die paar boeke te leen wat sy self in die hande gekry het en in die personeelkamer uitstal. Soggens maak sy seker ons kry kos, en onderrigtyd is sy in die klas en maak sy seker ons verstaan die les. Sy gebruik selfs haar selfoon om vir ons inligting te kry,” skryf Zukisiwe Mqwashele in haar brief. “Ons skool is in ’n armoedegeteisterde gebied sonder elektrisiteit, lopende water of tegnologie. Ons leerders stap sowat 20 km of meer om by die skool uit te kom. Hulle moet riviere oorsteek,” vertel Nosicelo. Maar sedert General Motors (GM) besluit het om ’n iPad-laboratorium vir hulle te borg, gaan dit beter. “Die leerders was so opgewonde om vir die eerste keer aan die iPads te raak. Dié wat afwesig was, het die volgende dag vroeg skool toe gekom omdat hulle gehoor het ons gebruik iPads,” sê Nosicelo.

'Die feit dat ons iPads gewen het, beteken ek doen wat ek die beste doen: Ek leer en help vorm ’n kind om ’n goeie landsburger te wees.'

“GM Suid Afrika het onderneem om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun met projekte wat fokus op onderwys en ’n rol sal speel om toekomstige leiers en entrepreneurs te vorm,” sê Thanusha Pillay, reklamebeampte by GM.

Die iPad-laboratorium bevat 20 iPad Mini’s, elk met ’n oortreksel, Wi-Fi en ’n 16 GB-geheue; ’n MacBook Pro-skootrekenaar; ’n projektor en ’n iTunes-begroting. Daar is ook ’n iPad Mini vir die onderwyser, opleiding en lidmaatskap van die iSchoolAfrica iPadgemeenskap en R80 000 se handboeke van Oxford University Press. Daarby word die skool deel van die Oxford Focus-skoolprojek.

Die leerders by Putuma leer nou om die iPads te gebruik vir leeswerk, geletterdheid en wiskundegeletterdheid. “Hulle is versot op Esopus Se Fabels, wat hulle nou op die iPads kan lees. Daar is nie meer afwesiges nie; almal is gretig om die iPads te gebruik. Daar is ook nie meer ’n lawaai in die klas nie, want almal konsentreer,” sê Nosicelo. “Die wiskundeonderwyseres is in die wolke, want sy sê sy kan reeds ’n verbetering sien sedert ons die iPads begin gebruik het.”

Die handboeke het ook ’n reuse verskil gemaak in hoe hulle onderrig word. “Elke leerder het nou ’n boek, wat beteken hulle hoef nie meer afdrukke te maak of boeke te deel nie.” Laetitia de Jäger, opleidingsfasiliteerder by iSchoolAfrica, sê: “Tydens die opleiding het die onderwysers gretig vrae gevra oor hoe hulle apps by hul onderrig kan integreer. ’n Mens kon sien hulle weet tegnologie sou hul manier van skoolhou verander.”

Nosicelo sê haar gebede is verhoor die dag toe sy hoor hulle kry ’n iPad-laboratorium. “Die feit dat ons iPads gewen het, beteken ek doen wat ek die beste doen: Ek leer en help vorm ’n kind om ’n goeie landsburger te wees.”

Is jy ’n onderwyser?

Word lid van ’n Facebookgemeenskap van innoverende iPad-onderwysers met opwindende idees vir die klaskamer. Klik hier om deel te word.

Dankie aan ons borge wat dié projek moontlik gemaak het: General Motors, iSchoolAfrica en Oxford University Press.

[post-slider]