Dit is elke aand ’n stryd om jou vyfjarige in die bed te kry. Hy dink allerhande verskonings uit om net nog ’n klein rukkie langer saam met jou te kan wakker bly. Maar al is dit soms ’n onaangename taak, gaan ouers wat ’n slaaproetine by hul kinders indril later die vrugte daarvan pluk.

Deur jou kind elke aand op ’n spesifieke tyd in die bed te kry kan hul gedrag by die huis en by die skool verbeter, het wetenskaplikes bevind. ’n Onlangse studie wat in die joernaal Pediatrics gepubliseer is, het getoon kinders wat op ongereelde tye gaan slaap, is meer geneig tot gedragsprobleme wanneer hulle voorskoolse ouderdom bereik.

Meer as 10 000 kinders se slaaptye is op die ouderdom van drie, vyf en sewe gemonitor. Kommentaar van die kinders se onderwysers en ouers oor hul gedrag is ook gedokumenteer. Navorsers het bevind dat die kinders wat op ’n vaste tyd gaan slaap, minder gedragsprobleme ervaar as dié wat op ongereelde tye gaan slaap.

Dié wat op ongereelde tye gaan slaap, is ook meer geneig om swakker te vaar in toetse wat hul probleemoplossingsvaardighede toets. Hulle toon ook hoër vlakke van hiperaktiwiteit, emosionele probleme en probleme met hul klasmaats.

Ongereelde slaaptye het ’n soortgelyke uitwerking op kinders as wat vlugvoosheid op volwassenes het, het die navorsers bevind.

Die negatiewe invloed van ongereelde slaaptye kan wel teengewerk word. Die kinders se gedrag het verbeter nadat hul ouers ’n gereelde slaaptyd ingestel het.

Bron: Time