Build-A-Body (gratis) is een van my gunstelinge. Dis ’n speletjie waarin jy ’n lyf stuk vir stuk “opbou” terwyl die stophorlosie jou aanjaag. Jy kies self of jy die dele van die skelet, spysvertering-, respiratoriese, uitskeiding- of bloedstelsel wil bou en die speletjie laat jou toe om te “meet en pas” tot jy die regte gaatjie vir byvoorbeeld die mandibel of sternum gekry het. As jy dus nie dadelik weet waar die orgaan of been hoort nie, kan jy maar met jou vinger oor die lyf gly tot jy die regte plek kry. Lekker en leersaam!

Human Body Facts 1000 (gratis) het ’n volle duisend koel liggaamsfeite. Dis jammer dat die app nie geïllustreer of as ’n vraag-en-antwoord-speletjie aangebied word nie, maar jy sal die feite kan gebruik om jou eie vasvraspeletjie vir die kinders te skep. En dis gratis!