Dis partytjietyd en die ou met wie jy nou al hoe lank wil gesels, staan naby jou. Maar ’n stemmetjie in jou kop bly sê: “Nee, moenie! Jy gaan simpel klein en die res van jou lewe bloos.”

En voor jy jou kom kry, stap jou droom-ou weg en jy hang nog by die kostafel rond. So is ’n goue kans verby en al wat jy het, is ’n servet vol pizzakorsies.

Die vraag is: Wat op aarde keer jou om te doen wat jy graag wil doen?

As die antwoord op die vraag “selfvertroue” is, het die skrywers Marci G. Fox en Leslie Sokol raad in die boek Think Confident, Be Confident for Teens (R178, Kalahari.com).

“Twyfel is jou grootste vyand,” sê Marci. “Dit laat jou onseker voel al het  jy geen rede het nie.” Jy kan die vrees oorkom, maar dan moet jy selfvertroue hê. “Selfvertroue is ’n belangrike bestanddeel vir sukses,” sê Leslie. “Dit laat ’n mens kanse waag en jou doelwitte najaag.” Hoe kry jy daardie selfvertroue, wonder jy. “Jy moet glo in jouself,” verduidelik Marci. Sê vir jouself jy kan enigiets doen en verruil jou swartgalligheid of opgee-gedagtes vir opbouende aangryp-gedagtes. Pleks dat jy dink: “Ek sal die toets druip,” of: “Hy sal nie met my uitgaan nie,” sê liewer: “Ek gaan goeie punte kry,” of: “Hy wil met my uitgaan!” MAAK SO

JY WIL . . .

Nuwe vriende maak

OPGEE-GEDAGTE “Sê nou net hulle hou nie van my nie en ek skaam my dood?”

AANGRYP-GEDAGTE “Dis pret om met my uit te hang; hoekom sal hulle nie van my hou nie!”

PLAN Hou op wag dat mense na jou toe kom, gaan na hulle toe! “Begin met hulle gesels en sê wie jy is,” sê Leslie. “Moenie dadelik beste vriende probeer wees nie, maar wanneer jy iemand in ’n groep beter leer ken het, kyk of hulle ook soms net saam met jou wil kuier. “Vra wat hul planne vir die naweek is en of jy kan saamgaan.”

JY WIL . . .

Jou Engelse mondeling rock!

OPGEE-GEDAGTE “Ek kan nie toesprake maak nie; almal dink ek is dom.”

AANGRYP-GEDAGTE “My mondeling is skitterend; ek gaan goed vaar.”

PLAN Sê vir jou jouself jy weet wat jy doen, dan sal jy piekfyn wees. “Dink terug aan vorige ervarings en kere wat jou op hierdie oomblik voorberei het,” sê Marci. En onthou, as dit voor die hele klas is, gaan jou maats waarskynlik net so gespanne oor hul mondeling wees en glad nie agterkom as jy per ongeluk ’n woord uitlaat het. Moet jou dus nie te veel bekommer nie.

JY WIL . . .

Inpas by die partytjie

OPGEE-GEDAGTE “Hierdie mense is soveel koeler as ek.”

AANGRYP-GEDAGTE “Niemand is beter as ek nie; ek is net so koel soos die res.”

PLAN “Dink aan die eienskappe waarvan jy in ander hou, wat ander ook in jou sien,” sê Marci. As jy glo jy is wonderlik, sal ander mense ook. As jy onseker is waaroor jy kan praatjies maak, hier is ’n plan: Vra hulle uit oor hul lewe, dan kan hulle saamgesels, maar staan ook gereed met ’n goeie storie of twee van jou eie.

JY WIL . . .

Goed doen in die eksamen

OPGEE-GEDAGTE “Ek is nie slim genoeg nie. Ek gaan dop.”

AANGRYP-GEDAGTE “Ek het hard geleer en ken die antwoorde.”

PLAN Die waarheid is as jy dink jy gaan druip, is die kans daar dat jy sal. Dit wat ’n mens dink, word vreemd genoeg dikwels waar. As jy in jou geestesoog sien dat jy goeie punte kry, sal jy waarskynlik meer leer voor die toets en jou onderbewussyn sal jou droom van goeie punte help bewaarheid. Vreemd, maar waar!

JY WIL . . .

Met DAARDIE ou/meisie praat

OPGEE-GEDAGTE: “Hulle sal dink ek is ’n loser. Ek het geen idee wat ek gaan sê nie.”

AANGRYP-GEDAGTE: “Ek is oulik en interessant en gaan my bes doen!”

PLAN: Om die moed bymekaar te skraap om hallo te sê vir iemand op wie jy verlief is is al erg genoeg, wat nog te sê van hulle uitvra, sê Leslie.

“Maar probeer is die beste geweer,” sê sy. As jy nie ten minste ’n poging aanwend nie, sal jy nooit weet of hulle belangstel nie. Jy het eintlik niks om te verloor nie.

Terwyl jy met jou hom/haar gesels, let op na leidrade oor hul persoonlikheid. As jy byvoorbeeld sê: “Dit het die afgelope tyd baie gereën,” en hulle sê: “Ja, dis aaklig, want ons kan nie krieket speel nie,” kan jy hulle verder uitvra oor goed soos waar hulle speel en vir hoe lank. Spits jou ore vir nog leidrade en hou so die gesprek aan die gang.

GEBRUIK LYFTAAL OM VORDERING TE MAAK

Navorsing wys tot 93 persent van kommunikasie is sonder woorde. Hoe jy beweeg en jou gedra, het ’n groot uitwerking op hoe mense jou ervaar. Gebruik dit tot jou voordeel.

  • Maak oogkontak: Dit laat jou selfversekerd lyk, en wys jy stel belang in die mens met wie jy praat.
  • Glimlag en lag. As jy wys dat jy pret het, sal niemand kan raai is, is senuagtig nie.
  • Laat jou palms en gewrigte. Dit wys jy is vriendelik en toeganklik.
  • Moenie vroetel nie. Iemand wat gedurig aan haar hare, gesig of klere vat, lyk senuagtig of gespanne, amper asof hulle jok.
  • Hou jou lyf oop. Gekruisde arms of bene wek die indruk dat jy terughoudend of onseker is.

Bekendes vertel wat hul selfvertroue ’n hupstoot gee

“Ek dink dis belangrik om selfondersoek te doen en seker te maak jy is presies wie jy wil wees.” – die sanger Haley Williams

“Ek is as ’n bietjie van ’n buitestander beskou. Ek het nie net een groep vriende gehad saam met wie ek elke liewe dag uitgehang het nie. Ek hou daarvan om saam met verskillende mense uit te hang en net pret te hê.” – die akteur Taylor Lautner

“Moenie bang wees nie, al sê mense dalk dit wat jy doen, is nie koel of reg nie. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees as jy getrou bly aan wie jy is en wat jy graag doen nie.” – die aktrise Emma Stone

“Ek was selfbewus oor wat ek my ‘boomstompbene’ genoem het, want hulle is baie gespierd . . . maar ek het het van hulle leer hou.” – die aktrise Vanessa Hudgens

“Jy kan nie iemand dwing om van jou te hou nie. Maar as jy van hom hou, moet jy met hom praat en net jouself wees. As jy van jou hou; wonderlik. Indien nie, daar is iemand daar buite wat net so baie van jou sal hou as wat jy van hom hou!” – die aktrise Emma Roberts

BRONNE: HEYUGLY.ORG,