DIT word nou “daai tyd van die jaar”. Almal is moeg, almal het meer as genoeg aktiwiteite agter die blad. Die sillabusse is ook amper deurgewerk en die tyd vir hersiening, eksamenvraestelle opstel en baie nasienwerk lê voor.

Die onderwysers wens die eksamen wil begin, want die leerders raak ál meer veeleisend. Hulle is ook moeg gewerk en nie almal is lus vir die baie hersieningsoefeninge en die eksamen wat om die draai wag nie.

En dan staan ek verlede week in die klas en behandel die laaste twee gedigte van die jaar – en een van die seuns steek sy hand op: “Juffrou, wanneer gaan ons ons eie gedigte skryf?”

Ja, jy het reg gelees: ’n Seun het dit gevra! Seuns hou mos nie gewoonlik van poësie nie . . .

Ek het op my horlosie gekyk, gesien daar is nog sewe minute oor voor die klok lui en geantwoord: “Nou. Julle gaan sommer nou elkeen vir my ’n gedig skryf.”

Tot my verbasing begin almal geesdriftig hul gediggies skryf. Die onderwerp: Hoe ek voel.

Toe die klok lui neem ek elkeen se gedig by die deur in soos hulle uitstap.

Daarna gee ek vir elke klas die geleentheid om vinnig gediggies te skryf. Nuus versprei gou en as die volgende klas instap, sê hulle al: “Juffrou, ek hoor ons gaan vandag gedigte skryf . . .”

’n Paar uur later begin ek deur die pak gedigte lees. Ek het gedink dit gaan sommer rympies wees.

Tot my groot verbasing en opgewondenheid lees ek die een goeie gedig ná die ander!

Ek is so beïndruk met die leerders dat ek besluit om die naweek die beste gedigte in ’n klein digbundeltjie te laat bind: drie in kleur vir die beste drie gedigte en nog sewe in swart-wit, want die top 10-gedigte word in die bundeltjie geplaas.

Die reaksie daarop was fantasties! Die leerders wie se gedigte gekies is, blom! En die ander wil hê ek moet alles vir hulle voorlees en klap hande vir hul klasmaats.

Wat ek eintlik probeer sê, is die volgende: Ons moet elke geleentheid aangryp wat ons die leerders kan bied.

En so het nog ’n dag in die klaskamer sy eie beloning gebring. Ek is baie beïndruk en verras deur die leerders se kreatiwiteit en geesdrif om binne vyf minute sulke oulike skryfwerk te doen.

Die leerders se trotse glimlagte en blink oë toe hulle die bundeltjie sien met hul gedigte daarin, was op sigself ’n beloning.

En skielik is die lus om te skryf aangewakker. Dit is beslis nie ’n slegte ding nie – binnekort skryf hulle hul skryfvraestelle !

Geen dag is dieselfde in die onderwys nie. Elke dag bring sy beloninkies en geluk . . .

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.