WAT is die beste metode om voorskoolse kinders padveiligheidsreëls te leer? Verf ’n padkaart op hul speelterrein en gee vir hulle speelgoedmotors waarmee hulle daar kan rondry.

Dis presies wat Carla Grobler, ’n onderwyseres by Tyger Valley College in Pretoria-Oos gedoen het. Dis maar een van talle uitreikprojekte wat sy en haar leerders al saam aangepak het. Dié 29-jarige wiskunde-onderwyseres is Huisgenoot, YOU en Drum se Kopskuif-onnie vir Maart. Met dié projek wil ons die 12 beste onderwysers in die land beloon met waardevolle tegnologie en ander hulpbronne wat hulle in die klaskamer kan benut.

“Jy doen nie die werk vir die erkenning nie, maar dis wonderlik as dit gebeur,” sê dié toegewyde onderwyseres oor haar prys. Sy is hoof van ’n uitreikklub by haar skool wat verlede jaar nege liefdadigheidsorganisasies gehelp het en werk aan sowat 14 projekte. Hulle het onder meer ’n biblioteek in die Primêre Skool Boschkop geopen en ’n padkaart by die Kungwini-sentrum vir Vroeë Onderrig geverf om leerders padreëls te leer. Met sulke projekte verryk sy haar eie leerders se lewe en boonop dié van minderbevoorregte kinders, gestremdes en bejaardes in hul omgewing. “As die uitreikklub die kinders kan leer hoe ’n mens iets teruggee en hoe jy ’n verskil in iemand anders se lewe maak, is ek tevrede,” sê sy. “As iemand ’n verskil maak en iemand anders sluit by dié aan, sal ons ’n groter verskil in die land kan maak.”

TOE haar skoolhoof, Gary Sim, onlangs aan haar klaskamer se deur kom klop, was Carla bang sy is in die sop, kompleet soos ’n skoolkind wat na die hoof se kantoor ontbied word. “Maar mnr. Sim het vir my gesê ek het ’n kompetisie gewen,” vertel sy. Sy was baie verbaas, want sy het nooit vir een ingeskryf nie; ’n kollega, Kate Hundermark, het ons van dié Kopskuif-onnie en haar uitreikwerk vertel.

Sy en haar uikreikspan het verlede jaar ook die Boschkop-skool ’n eie biblioteek help inrig. Hulle het ’n leë klaskamer geverf, rakke ingesit en dit vol boeke gepak. “Ons het ook nou met ’n tutorprogram daar begin. Tien gr. 10’s tot 12’s gaan elke tweede Maandag soontoe om die kinders met geletterdheid en syfervaardighede te help. “Boschkop se kinders geniet dit en ek dink dis omdat jong mense hulle leer. Ons kinders leer ook terselfdertyd iets.”

“Dit is ongelooflik om kinders aan te spoor en hulle tot die mens te help ontwikkel wat hulle graag eendag wil wees,” sê Carla. “Sy is passievol oor die uitreikwerk en werk oortyd. As ons komberse insamel, bly ons saam met haar agter tot vyfuur om e-posse te stuur. Sy is ’n baie goeie wiskunde-onderwyseres en baie geduldig,” voeg Simphiwe Skosana (17), ook ’n gr. 11-leerder, by.

As deel van Carla se prys, kry haar leerders 20 ipads van ischoolafrica en Oxford-boeke ter waarde van R20 000, wat Telkom geborg het. Sy het ’n ipad-opleidingskursus gewen en haar eie ipad wat deur ischoolafrica geborg word. “Ek is baie opgewonde oor die ipads. Die leerders sal baat vind by die tegnologie, want hulle gebruik dikwels tegnologie. Alles wat hulle doen, word óf met ’n selfoon óf met ’n ipad gedoen. Ek dink dit kan hulle net laat verbeter en kundiger maak,” sê sy.

Carla glo onderwysers speel ’n belangrike rol in hul leerders se lewe en in die gemeenskap. “Baie van die emosionele probleme by kinders kan tot gedragsprobleme lei. Jy moet net sterk wees en vir hulle die regte pad wys en ook vir hulle soos ’n ouer probeer wees.”

Watter raad het sy vir ander onderwysers wat ’n verskil probeer maak? “Wees passievol oor jou werk, wys jy’s geesdriftig en verwag gehalte van jou leerders. Gebruik jou tyd verstandig en bly oopkop.”

DANKIE

Ons bedank Marlene Jordaan van The Hill Spar in Pretoria vir drinkgoed en verversing met die oorhandiging van die pryse.

Ons sê dankie aan Telkom, ons hoofborg vir die dag. Asook iSchoolAfrica en Oxford University Press vir hul bydrae.

Wat het Carla en Tyger Valley College gewen:

  • Ipad mobiele sentrum: 20 ipads en omhulsels, Macbook Air, projektor, App-toewysing en app-gidse, deur Telkom geborg
  • Ipad en omhulsel vir onderwyser, deur ischoolafrica geborg
  • Opleiding vir onderwyser, deur ischoolafrica geborg en verskaf
  • Oxford-skoolboeke ter waarde van R20 000

iSchoolAfica sê:

“Ons is bly dat onderwysers soos Carla gehuldig word, nie net oor hul passie vir die onderwys nie, maar ook oor hul onbaatsugtige gemeenskapsdiens. Ons is opgewonde daaroor dat Tyger Valley College die ischoolafrica ipad-leerprogram volg en sien uit daarna om te sien hoe Carla en haar kollegas die ipad by die werk integreer wat hulle doen.” – Michelle Lissoos, projekdirekteur van iSchoolAfrica

Oxford University Press sê:

“Ek is baie beïndruk met die manier waarop Carla Grobler en die leerders by Tyger Valley ander skole in hul gebied ophef. Op hierdie manier sal ons van Suid-Afrika ’n beter plek maak. Op hierdie manier kan ons sorg dat ál meer leerders in ons pragtige land gelyke geleenthede kry om hulself te verbeter. Oxford is trots om met Carla en die leerders by Tyger Valley College verbind te word.” – Botho Mothibi, skoledirekteur

Telkom sê:

Onderwysers speel ’n sleutelrol in die pogings om onderwys te verbeter. Daarom is dit noodsaaklik om spesiale erkenning aan dié te gee wat meer doen as wat daar van hulle verwag word, wie se harte op die regte plek is en wat ondanks probleme positief bly. Telkom is ’n trotse en bevoorregte vennoot van die Kopskuifonnies-projek en wens Carla alle voorspoed toe. – Nathi Kunene, Telkom-stigting

Lys van liefdadigheidsorganisasies wat hulp van Tyger Valley ontvang:

  • Paul Jungnickel-tehuis
  • Kungwini-sentrum vir vroeë onderrig(KELC) Swavelpoort, Boschkop, Lethabong
  • Boschkop Primêre Skool
  • Vuka Primêre Skool
  • Itumeleng-skuiling
  • Tshwane Haven
  • Wet Nose
  • The Voice of Daniel-sentrum

Deur Katlego Mkhwanazi

Telkom_Colour OUPSA resize  iSchool Africa resizeonnie

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change

Teachers For Change