SY HOU ’n oorpak by die skool vir wanneer sy soggens die badkamers skoonmaak of vullis op die skoolterrein optel. Maar Amanda Ntsumpa (49) is nie ’n skoonmaker nie. Sy is die skoolhoof van Vukanibantu Primêre Skool in Motherwell, Port Elizabeth.

“Deur onselfsugtig te lewe kan ons almal ’n verskil maak in die gemeenskap,” sê Amanda, die derde van 12 wenners in Huisgenoot, YOU en Drum se Kopskuif-onniesprojek waarmee ons onderwysers landwyd met tegnologie wil bemagtig.

Onder Amanda se pryse tel 21 iPads vir haar en haar leerders. Vandag is daar geen teken van die oorpak nie; sy is uitgevat vir die spog-oorhandigingsfunksie by die skool. Die borge praat, die koor sing, en dwarsdeur die verrigtinge sit Amanda met ’n breë glimlag en luister. Kort-kort gee sy ’n effense kopskud asof sy steeds nie kan glo sy het gewen nie.

Amanda is sedert April 2011 die skoolhoof hier. Voorheen was sy adjunkhoof by ’n ander skool in Motherwell. “Dit was lekker om in ’n posisie te kom waar ek van die planne wat ek het, kon uitvoer.” En die onderwysers en ouers van Vukanibantu kon dadelik ’n verskil sien.

“As Engels-onderwyser het sy blitsvinnig die leerders in spanne georganiseer om aan ’n spelkompetisie van die onderwysdepartement deel te neem,” vertel Thenjelwa Albia, die onderwyser wat Amanda vir die prys benoem het.

Haar vakgebied is vir haar baie belangrik, sê Amanda. “Ons kinders moet hulself in dié wêreldtaal leer uitdruk. Hulle moet goeie kommunikeerders wees.” Sy werk self ná ure met spel- en debatspanne sodat sy naby is as hulle vrae het.

Toe Thenjelwa hoor Amanda en Vukanibantu het gewen, was sy oorstelp. “My foon het pousetyd gelui. Ek het so gegil en kon nie ophou bewe nie! Dit was my droom: rekenaars vir die skool! Dit gaan ons manier van klasgee verander; ons kinders gaan die beste wees!”

Amanda stem saam. “Tegnologie is onmisbaar in die moderne samelewing. En tog bly skole soos ons s’n dikwels agter. Die iPads saam met die wonderlike nuwe boeke van Oxford University Press kan ons en die kinders weer geesdriftig maak om te leer en te lees.”

Dis ’n wonderwerk, hierdie kompetisie, ’n seëning vir ’n gemeenskap wat goeie nuus baie nodig het, sê sy. En oor en oor dié refrein: “Dis nie ek nie, dis die gemeenskap en onderwysers. Almal het gehelp!” Selfs in haar toespraak sê Amanda dié dag gaan eintlik oor Thenjelwa, haar “steunpilaar” wat die visie gehad het om vir dié kompetisie in te skryf.

Hoe voel sy wanneer mense haar ’n inspirasie noem? Amanda dink ’n rukkie. “Sedert ek by die onderwysdepartement begin werk het, het ek my stempel afgedruk by al sewe skole waar ek al was. Ek het by elkeen ’n verskil probeer maak. Dis al wat ’n mens kan doen.” Sy is al 26 jaar in die onderwys en hou vol passie is die belangrikste bestanddeel vir ’n suksesvolle onderwyser.

DANKIE

Baie dankie aan Kevin Klette van die Zonke Superspar in Motherwell vir die koeldranke en eetgoed vir die geleentheid.

KNOMO sê:

“Ek was baie trots daarop om namens Knomo die iPad-laboratorium aan Vukanibantu Primêr te oorhandig, ’n skool wat hulle nie net toewy aan die opvoeding en die groei van leerders nie, maar ook om die leerders in die toekomstige dokters, prokureurs en leiers van Suid-Afrika te laat ontluik. Die warmte van die onderwysers en leerders het my nederig gestem toe ek by die skool aankom, en ek het dit geniet om met die onderwysers te gesels oor die moontlikhede wat die iPads inhou om uit ’n onderwysoogpunt die grense te verskuif.”

- Nikki Friedman, handelsmerkbestuurder vir bykomstighede – The Core Group Edms. Bpk.

iSchoolAfrica sê:

“Ons is verheug om Vukanibantu Primêre Skool by die iSchoolAfrica iPad-leerprogram te verwelkom. Amanda se toewyding aan die onderwys, inspirerende leierskapskenmerke en voortgaande toewyding om haar skool te verbeter maak haar ’n voorbeeld vir alle Suid-Afrikaanse onderwysers. As ’n vindingryke en aktiewe lid van die gemeenskap wat sy dien, kan ons nie wag om te sien watter uitwerking die mobiele iPad-laboratoriums op haar skool gaan hê nie.”

- Michelle Lissoos, projekdirekteur van iSchoolAfrica

OXFORD sê:

“Vukanibantu Primêr is’n beter plek sedert Amanda Ntsumpa die skoolhoof geword het. Dit is ook juis waaroor die Kopskuif-Onnies-projek gaan – onderwysers soos Amanda wat werklik ‘n verskil maak. Sy sort dat die ouers, gemeenskap en ondernemings betrokke raak om die opvoeding van al die leerders te verbeter”

– Botho Mothibi, skoledirekteur, Oxford University Press

Wat het Amanda gewen?

  • ’n Mobiele iPad-laboratorium: 20 iPads en omhulsels, MacBook Air, ’n projektor, ’n app-toewysing en app-gidse, geborg deur Knomo.
  • iPad en omhulsel vir Amanda, geborg deur iSchoolAfrica.
  • Opleiding vir Amanda, geborg deur Knomo en gefasiliteer deur iSchoolAfrica.
  • Oxford-skoolboeke ter waarde van R20 000.

Klik hier om foto's van die oorhandiging te sien.

Oxford

iSchool Africa

knomo