Meisie, dink jy as jy mooier bene gehad het, sou jy makliker ’n kêrel gekry het?

meisie 1

Hoewel dit alles vir ouens belangrik is, is ’n aangename persoonlikheid glo vir tienerseuns selfs aanlokliker as sexy bene. Om lekker te kan lag is verleideliker as om vurig te kan soen. En glo dit of nie, vir die adamsgeslag is ’n intelligente meisie bekoorliker as ’n gewilde een.

Dié verrassende bevindings oor wat jong kêrels se hart vinniger laat klop, is deur ’n jong wetenskaplike van Kaapstad gemaak en het slimkoppe so beïndruk dat Heidi Böttcher (14) daarmee ’n goue medalje op ’n wetenskap-ekspo gewen het.

Heidi, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Vishoek in die Suid-Skiereiland, het ’n peiling onder 399 leerders aan haar skool gedoen.

Sy het seuns gevra waarvan hulle in meisies hou, maar het terselfdertyd vir meisies gevra wat hulle dink seuns in meisies soek.

Haar bevinding: Meisies sit die pot heeltemal mis oor wat ouens se knieë lam maak.

“Hoe ouens en meisies na dinge kyk, is amper presies die teenoorgestelde,” verduidelik sy haar bevindings. Twee derdes van meisies was oortuig dat ouens net in voorkoms belangstel. Maar wat sê die ouens toe? ’n Allemintige 72 persent sê hulle verkies ’n meisie met ’n aangename persoonlikheid en ’n eenvoudige voorkoms bo ’n mooi nooi met ’n nare geaardheid.

“Meisies dink ouens konsentreer net op die liggaamlike, maar hulle is verkeerd. Persoonlikheid is vir hulle baie belangriker.” Heidi het verlede jaar haar vraelys onder skoliere van gr. 8 tot 12 uitgedeel. In elke ouderdomsgroep het dit wat ouens as belangrik beskou, hemelsbreed verskil van dit wat meisies gedink het ouens wil hê.

'Meisies dink ouens konsentreer net op die liggaamlike, maar hulle is verkeerd. Persoonlikheid is vir hulle baie belangriker.'

Byvoorbeeld: Meisies het gedink ouens sal meer van hulle hou as hulle seksuele ervaring opgedoen het, maar eintlik het dit geblyk ouens beskou dit as taamlik onbelangrik.

“Duidelik verstaan meisies ouens nie regtig nie,” sê Heidi. “Meisies moet ophou om so besorg te wees oor hul voorkoms, want dit is nie regtig waarna ouens kyk nie.”

Tog het haar bevinding haar verbaas. Sy het nooit gedink seuns gaan voorkoms so laag skat nie. Vir die 12- tot 14-jarige latte was ’n mooi lyfie aan ’n meisie maar die vyfde belangrikste karaktereienskap, terwyl meisies in dieselfde groep gedink het dit is ouens se topprioriteit. Seuns van dié ouderdomsgroep dink humor, selfvertroue, hoflikheid en intelligensie is belangriker.

HEIDI se steekproef was tot haar skool beperk, maar haar mentor, Olga Peet, Kaapse koördineerder van Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes, beskou dit as ’n uitmuntende studie. Boonop is die leerders van die Hoërskool Vishoek ’n uiteenlopende groep jong mense; daarom weerspieël die resultate iets van hoe jong mans in die breër bevolking oor meisies dink.

Heidi het in haar verslag ook gekyk na wat ouens van spesifieke tale en gelowe as belangrike eienskappe in meisies beskou. Dit was glo veral Afrikaanse seuns - ’n volle 94 persent ¬- wat ’n mooi persoonlikheid onder hul nooiens hooggeag het.

Maar tog moet ’n mens versigtig wees voor jy te veel uit Heidi se studie aflei. Daar sal veel omvattender navorsing gedoen moet word voor ’n mens regtig met wetenskaplike sekerheid kan sê wat in ouens se kop aangaan, sê prof. Ken Jubber, afgetrede sosioloog van die Universiteit van Kaapstad. “So ver ek weet, is daar nog nie so ’n studie gedoen nie.”

Maar voel Heidi sy het wel iets met haar studie bereik? Ja, sê sy. “Ek was moeg daarvoor om te sien hoe meisies hulself met grimering en klere probeer mooier maak net om steeds geen sukses met ouens te hê nie. Daarom het ek dié projek aangepak: om ’n alledaagse probleem op te los wat almal raak.

“Hopelik gaan meisies nou weet hulle hoef nie so baie moeite met hul voorkoms te doen nie; dat dit liewer oor haar persoonlikheid gaan.”

Heidi se skool het haar studie verlede jaar ingeskryf vir die streekskompetisie in Eskom se jaarlikse ekspo waarin jong wetenskaplikes teen mekaar meeding. Daar het sy ’n goue medalje in haar kategorie van sosiale en gedragswetenskap gewen.

Daarna is sy in Oktober na Johannesburg vir die nasionale ronde van die ekspo waar sy ’n silwermedalje gekry het. Sy is toe gekies om Suid-Afrika in Februarie in Taiwan in ’n internasionale kompetisie vir jong wetenskaplikes te verteenwoordig. Daar het sy eerste in haar kategorie geëindig.

Kort ná haar terugkeer na Suid-Afrika het Heidi ’n nuwe kêrel gekry, ’n gr.11-seun, ook van die Hoërskool Vishoek. Maar help haar navorsing haar nou enigsins om hom beter te begryp? “Wel, ons is nou maar nog net ’n paar weke saam; ons kyk maar hoe dit gaan.”

-Petrus Malherbe

[post-slider]