Saggies toegemaak in sy bedjie en weggevoer na droomland is die mooiste prentjie van ’n baba. Wanneer ons voorbereiding tref vir ’n nuwe aankomeling, kan ons die baba, en natuurlik onsself, met mooi beddegoed bederf.

Om die bababedjie met sy mooi beddegoed gereed te maak is een van die heerlikhede van wag op ’n nuwe baba. Elke verwagtende ouer hou daarvan om die snoesige kombersies, lakens en kwilts te rangskik waarop die nuwe mensie gaan slaap. As jy ’n kranige naaldwerker is, is dit nou die tyd om iets spesiaal soos appliekwerk by ’n gekoopte kombersie te voeg. As jy dit nie kan doen nie, vra iemand anders.

Delikate detail

Delicate MAIN

By linnegoed en beddegoed is detail so belangrik en dit hoef nie oordadig te wees nie. Die eenvoudigste detail, soos ’n kruis of komberssteek, of die byvoeging van ’n satynlint, kan ’n eenvoudige kombers of kwilt besonders maak.

’n Oulike, elegante, geborduurde boodskap of aanhaling uit ’n liedjie of kinderrympie dra by tot ’n tikkie liefde. Daar is niks liewers as ’n baba wat in sy bedjie slaap nie. Beddegoed met voorletters, geborduurde boodskappe of appliekwerk versier is ’n mooi manier om te wys jou baba is spesiaal.

Handgemaak

Delicate 2

Naaldwerk kan maklik wees wanneer die verwagtende mamma ’n rustige tydjie het. Groot, los letters in ’n eenvoudige steek, met ’n hart van vilt daarby, is maklik genoeg as jy begin naaldwerk doen. Dis die handgemaakte goedjies wat warmte en sjarme aan die babakamer verleen, soos ook ou en nuwe goed: kwilts, katoen, gehekelde kombersies met detail in die tekstuur en afwerking.

Wenk: Baie bedjies se basisse kan opgelig word vir pasgebore babas, maar dit laat ’n groot opening onder die bedjie. Maak ’n eenvoudige val en gebruik die opening vir ekstra pakplek.

Deur Sam Scarborough

Sam, self ’n ma, skryf oor binneversiering en skeppende goeters vir kinders om ander ma’s aan te spoor om kreatiewer in hul gesin en huis te wees. Sam glo ’n kind se omgewing is sy eerste tree na kreatiwiteit. Sam het ’n binneversieringsmaatskappy en spesialiseer in die ontwerp van produkte vir kreatiewe speelplekke en -idees vir kinders.

Vir nog oulike idees vir kinderdekor, besoek www.kidsdecor.co.za of www.facebook.com/kids.decor.designs