Fliekteaters is nie meer net die plek waar leerders oor naweke en in vakansietye rondhang nie. Danksy Educ8, ’n hersieningsprogram wat deur die maatskappye Telkom Mobile, BHP Billiton en Samsung aangebied word, skuif ’n paar honderd leerders weer vanjaar vir tien lesse in die sagte sitplekke van 14 teaters landwyd in om hulle vir die wiskunde- en wetenskap-eksamen voor te berei. Die eerste les was op 21 Julie en die laaste is op 22 September.

Die lesse “op die silwerdoek” word ondersteun deur ’n werkboek, en ’n vakonderwyser is byderhand om leerders se vrae te beantwoord.

Aangesien net ’n beperkte getal leerders in die teaters kan sitplek kry, het Telkom Mobile ook die lesse aanlyn beskikbaar gestel. As jy dus in hierdie stadium nié reeds ’n plek in die teater het nie, kan jy weekliks http://www.telkommobile.co.za/pages/educ8/ besoek om ’n module af te laai.