Julle het nodig

Leë 1 L- of 2 L-kartonhouers, soos dié waarin ’n mens sap of melk koop

Skêr

Liniaal

Kleefband

Oorskietlap

Watte of oorskiet-opstopsel

Oorskiet-dubbelbreidraad

No. 8-breipenne

Maak so

WIEGIE

1 Plaas die kartondoos plat op ’n tafel neer sodat die breë kante bo en onder en die nouer kante aan die kant is. Die voorpunt (waar die doppie gewoonlik is) moet weg van jou af wys.

2 Knip die boonste vlak van onder af al langs die hoeke los maar los 5 cm aan voorpunt. Dié strook van 5 cm sal deel uitmaak van die wiegie se dak.

3 Maak die dak: Knip dié strook nou sowat 3 cm aan die kante en tot teen die proppie

aan die voorpunt los. Sny ’n golfpatroon aan die oop kant uit.

4 Vorm die bedjie: Sny die kort kante ewe hoog – dis die kop- en voetstuk. Sny nou die sykante in die lengte effens laer.

5 Pas die dakkie oor die wiegie en plak dit aan die agterkant vas met kleefband.

MATRAS

1 Meet die onderste vlak van die wiegie en sny 2 stukke lap uit wat ’n bietjie groter as die onderste vlak is.

2 Plaas die twee regte kante van die lap teen mekaar en werk ’n soom aan drie kante effens bo die materiaalrand vas. Jy het nou ’n sakkie waarvan die verkeerde kant na buite wys.

3 Dop die sakkie om en vul dit met die watte of opstopsel.Werk die oop kant vas.

Kombers

1 Sit 28 steke dubbelbreidraad op no. 8-penne.

2 Brei ’n reghoek in koussteek tot die kombersie sowat 12 cm lank is.

3 Heg af.

* As jy nie wol en breipenne byderhand het nie, kan jy lapkomberse prakseer.

Wenk Trek die popbedjies met mooi papier oor.

BRON: HUISGENOOT-SPEEL

Foto: Kreatiewe leiding en stilering: Tina-Marié Malherbe. Fotograaf: Peet Mocke