Gaan maak bietjie jou dagboek oop en kyk na die datum. Jy sal dalk skrik wanneer jy besef die helfte van die eerste kwartaal is reeds verby!

Jy het dalk die nuwe jaar begin met ’n hele paar voornemes: Begin uiteindelik met daardie oefenprogram, vlos daagliks en…wees ’n goeie onnie.

Ons het by ons Facebook-gemeenskap Kopskuifonnies gaan raad vra oor wat hulle dink ’n goeie onnie maak.

Margaret van Jaarsveld-Ihlenfeldt glo ’n goeie onderwyser leer kinders van grense en behandel elke kind op ’n unieke manier, maar bly tog konsekwent.

“’n Goeie onderwyser gee leerders elke dag die geleentheid om oor te begin - ten spyte van wat ookal die vorige dag gebeur het,” meen Margaret. “ ’n Goeie onderwyser is lief vir die kinders in sy/ haar klas!”

Byna al die onnies stem saam met Salomé van der Mescht. Sy som die sleuteleienskap van ’n goeie onderwyser so op: “Geduld, geduld en nogmaals geduld.”

Nog kenmerkende eienskappe van ’n goeie onderwyser is:

  • deursettingsvermoë
  • regverdigheid
  • konsekwente dissipline
  • empatie en simpatie
  • hardwerkendheid
  • aanpasbaarheid
  • ’n goeie humorsin
  • toewyding
  • die vermoë om jou leerders te inspireer
  • kreatiwiteit

Behalwe ’n passie vir die onderwys, glo Lorette van Jaarsveld in’n goue reël vir enige onderwyser: “Wees altyd voorbereid!”