AS DIE kinders aan die begin van die jaar by my gr. 7-klaskamer instap, doen hulle dit gewoonlik op een van drie maniere: vrolik en opgewek en lus om die jaar te pak, doodbang (ek is glo in die gange as baie streng bekend), of erg windmakerig omdat hulle nou die seniors in die skool is en hul nuwe status gaan geniet. As hul onderwyseres moet ek al hierdie houdings kan hanteer.

In een klaskamer het ’n mens verskillende kinders wat verskillend en met verskillende waardes grootgemaak is. Daar is dié wat meen ’n mens moet besittings hê om in te pas en dit kan ’n geboelie in die klas veroorsaak. Daar is deurslot-kinders wie se ouers albei werk vir wie TV en videospeletjies dikwels hul rolmodelle geword het. En dan is daar kinders wat lyk asof hulle deur hierdie kwessies seil.

In dié mengsel is daar kinders wat streng godsdienstig is, kinders wat met hul seksualiteit sukkel, dié wat uit huise kom waar mishandeling plaasvind, dié wat nie ontbyt gehad het nie en waarskynlik ook nie aandete gaan kry nie . . . alles in een klaskamer, in enige graad.

Die werk van ’n onderwyseres het geword om ma, pa, voorligtingsraadgewer, vertroueling, dissipline-toepasser en helper te speel. Ons is nie meer op die leerplan gefokus nie, maar op die kinders. En dis moeilik! Met die leerplan kan ’n mens jou voorberei op die doelstellings wat jy elke dag moet behaal. As jy met ’n kind werk, improviseer jy soos die vraagstukke opduik en hoop jy jy het ’n positiewe invloed op daardie spesifieke kind.

Ek moet seker maak al hierdie kinders sien op na my as ’n rolmodel. Die probleem is dat ek omtrent net ’n meter lank is. Sit my in ’n skare van my kortste leerders en ek staan steeds nie uit nie. Ek het opgehou om my skoolsweetpak te dra want dit het al ’n paar keer gebeur dat kollegas met my raas omdat ek op plekke is waar leerders nie mag kom nie!

Maar ek het ’n sterk kode in my klas dat wanneer my leerders by die deur inkom, hulle dit met ’n skoon blaadjie doen. Ek maak dit duidelik dat al die rillerverhale en probleme van vorige jare by die deur gelaat word. Dis hul keuse of hulle bagasie wil rondsleep of ’n vars begin wil maak.

En om dissipline in ’n gr. 7-klaskamer te handhaaf is soos om ’n storm binne-in ’n teekoppie te hou. Maar as jy wys genoeg is om die koppie tot by sy rand vol te maak, kan jy dalk net ’n lekker koppie tee geniet! Ek probeer dit doen deur in my klas se lewens belang te stel en hulle uit te vra oor die dinge waarvan hulle hou en nie hou nie, wat hulle die naweek gedoen het, hul liefde-haat-verhouding met hul medespruite, die nuutste speletjies wat hulle speel, mode . . . die lys is eindeloos. Ek probeer met hulle connect. As ek dit doen, voel hulle hulle word erken as individue wat beter en slegter dae beleef. As ek belangstelling toon, word hulle verseker dat ek hul beste belange op my hart dra.

In die praktyk is dit natuurlik nie so maklik nie. Ek skree, ek deel detensie uit, ek neem voorregte weg en roep ouers in as ek voel hul bydrae is nodig. Maar as ’n mens straf, is dit belangrik om duidelik uit te spel waarom hulle gestraf word en dat ouers dit ook verstaan en dit by die huis gaan deurvoer, sodat hul kinders kan leer om verantwoordelikheid vir hul dade te aanvaar. Vergoeding van hul optrede moet altyd op die voorgrond van enige straf wees en een van die lewenslesse wat ons hulle moet leer, is dat hulle uit probleme moet leer.

In my ervaring het hierdie benadering in die meeste gevalle gewerk. Daar was egter kere waar leerders – meestal weens ’n gebrek aan ouerlike betrokkenheid – kwessies op hul eie moes hanteer met hulp van my en ander steunpersoneel in die skool. As ’n ouer weier om te erken dat hul kind ’n dissiplineprobleem het, lei dit uiteindelik tot ’n magstryd in die klaskamer omdat die kind weier om ’n spanspeler te wees. In een so ’n voorval is die kind na ’n ander klas geskuif. Dit het goed gewerk omdat my klas toe as ’n eenheid kon werk en ’n ander klaskamer het beter vir die kind gewerk.

Uiteindelik is dissipline ’n wen-wen-situasie vir leerders, onderwysers en ouers. As daar ’n werkbare middeweg gevind word, kan die gevolge net positief wees.

Ons lewe in ’n gejaagde wêreld waar kinders gedwing word om groot te word en volwasse besluite te neem. Dis ons, die grootmense, wat hulle met die nodige vaardighede moet toerus dat hulle hierdie besluite kan neem en wat moet wys dat ons hulle respekteer.

- Reyana Manuel

  Reyanah Manuel is ’n gr. 7-onderwyseres by ’n Kaapstadse laerskool. Nadat sy heelparty ander rigtings beproef het, het sy besef onderwys is in haar bloed.