Hierdie toe-en-nou-foto is in ’n ander klas . . .

Toe Laura Mazza ma word, het sy weer gedink oor haar eindelose stryd om rietskraal te wees.

“Ek het geen koolhidrate geëet nie en skaars enige groente. Net vleis. Maar ek was dol daaroor, want ek het vining gewig verloor en hoe meer bene sigbaar geword het, hoe meer waarde het ek aan myself geheg,” het die ma van twee in ’n openhartige plasing op haar blog, The Mum On The Run gedeel. Sy het die plasing “Liefde maak jou vet” genoem.

“Ek het steeds na hierdie foto, hierdie afbeelding van myself, gekyk en gedink ek is vet,” het sy geskryf met verwysing na die “voor”-foto links. Daar was niks verkeerd met hoe ek gelyk het nie. My liggaam het aan my behoort.”

Sy beskryf voorts hoe mense haar geprys het oor haar streng verbintenis aan haar pogings om skraal te wees. “Ek onthou mense het my gevra wat my oefenprogram was . . . Hulle het my bewonder. Ék het my bewonder! Ek het ’n hele kas vol nuwe klere gekoop. Ek was so trots. Ek het my liggaam ten toon gestel.”

Die geboorte van haar babas het die blogger se liggaam heeltemal verander – en haar ingesteldheid ook.

“Rekmerke. ’n Naeltjie wat hang. Dikker, nie baie bene is sigbaar nie, maar meer kuiltjies wat selluliet aandui,” beskryf sy haar liggaam soos dit tans daar uitsien.

“Die letsels en rekmerke en drillende maag is daar omdat ek mense gemaak het. Ek het ’n bietjie meer koek geëet, ek het ’n bietjie meer wyn gedrink. Ek het saans negeuur bekerkoek gebak en my op die rusbank teen my man neergevly. Ek was om die een of ander rede nie lief vir hierdie liggaam nie. Dis hartseer.”

“Mense wil nie hierdie foto sien nie. Skielik is dit nie oukei nie. Dit is nie meer sag op die oog nie. Dit is nie ’n liggaam wat mense kan bewonder nie.

Sy erken sy het ’n tyd lank glad nie haar liggaam bewonder nie en sy was so skaam oor haar voorkoms dat sy nie eens foto’s geneem het terwyl sy swanger was nie. “Hierdie liggaam het nie sexy onderklere of ’n kas vol nuwe klere verdien nie.”

“Ek was skaam omdat ek so groot gelyk het.”

Toe dring die besef tot haar deur dat sy nie veel gelukkiger was toe sy skraal was nie – en alles maak skielik vir haar sin.

“Ek het met hierdie liggaam meer bereik as met my oue. Ek het meer gesonde kos geëet. Ek het meer geleef, ek het meer gegee. Ek het meer geniet. Ek het lewe geskep. Hierdie liggaam – hiérdie liggaam – moet gevier en bewonder word.

“Ek verstaan dit nou. Vier alle liggaamstipes en die stories wat met hulle gepaardgaan. Bowenal behoort die persoon gevier te word. ’n Gesonde liggaam behoort gevier te word. Ons behoort gesondheid na te streef. ’n Gesonde brein, gesonde reise, en hoe dit ook al tot uiting kom in ons liggaam, ons behoort dit te bewonder.

Ek wil natuurlik nog graag lyk soos op daardie foto. Ek mis daardie lyf, dit maak my hartseer. Maar ek wil op ’n gesonde manier daar uitkom, geestelik sowel as liggaamlik. Ek wil trots wees op hierdie liggaam en in vrede daarmee saamleef. En ek wil hou van dit wat ek tans het.

"Nee . . . ek wil liéf wees vir dit wat ek nou het.”

Die treffende toe-en-nou-foto’s van hierdie ma sal jou twee keer laat dink oor hoe jy oor jou lyf voel.

Sy eindig haar plasing, wat virusafmetings aangeneem het, met ’n boodskap aan ander vroue: “Dit maak nie saak of jy ’n no. 6 of no. 60 dra nie. Jy verdien om dit te vier. Sexy onderklere én ’n kas vol nuwe klere.”

Die inspirerende boodskap in intussen meer as 7 000 keer op Facebook gedeel en het kommentaar van meer as 1 000 mense ingeoes. Die meeste van hulle oorstroom haar plasing met boodskappe van steun.

“Ek sien ’n meisie op die een foto en ’n vrou op die ander een!” het een bewonderaar geskryf.

“Jy. Is. Pragtig,” het ’n ander een bygevoeg. “Dankie dat jy in woorde omgesit het wat so baie van ons hier buite in die wêreld voel!”

Stem jy met Laura saam? Deel jou gedagtes op ons Facebook-bladsy.