Eerste foto

EN NOU is dit eksamen. Die meeste aktiwiteite neem af. Onderwysers werk hard om vraestelle voor te berei en na te sien. Sommiges ervaar werkbevrediging as hulle sien dat hul leerders sukses behaal, ander is dalk teleurgesteld.

Die leerders is stiller en meer gefokus. Die eindeksamen is nie speletjies nie.

Maar verlede week, voor die eksamen begin het, het sowel onnies as leerders baie pret gehad toe ons skool se onderwysers personeelkonsert gehou het. Die saal het gedreun van die gelag en almal het dit baie geniet.

Behalwe dat die leerders nie uitgepraat kon raak oor hul oulike onderwysers wat hul naam met ’n plank op die verhoog geslaan het nie, is ’n personeelkonsert ’n wonderlike spanbou- en geesvanggeleentheid vir die personeel. Ons raak soms so vasgevang in skoolwerk en die voortdurende papieroorlog dat ons nie tyd kry om te gesels en saam te lag en mekaar sommer net op ’n ander vlak beter te leer ken nie.

Maar elke keer as ons personeelkonsert hou, is daar baie pret en plesier en raak kollegas lekker laf en ontspan saam – tot groot vermaak van die leerders. Ek sal dit regtig vir die personeel van alle skole aanbeveel . Die leerders kom weer agter dat onderwysers ook maar net mens is en goeie verhoudinge word gebou.

Collage

Baie sterkte aan elke onderwyser met die lang ure van nasienwerk en mag julle elkeen werksbevrediging in die goeie uitslae van jul leerders ervaar!

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.