JY IS ’N STRESBOL

Jy het blink toekomsplanne, maar is ook geneig om erg daaroor te stres. As jy drank gebruik om te ontspan en kop bo water te hou, het jy dalk iets gemeen met Maddie (17) wat skoolwerk, ’n deeltydse werk en ’n besige buitemuurse rooster moet baasraak. “Ek drink oor naweke om stoom af te blaas,” sê sy.

Kry ’n beter manier om kop bo water te hou! Gaan draf ’n ent of ontspan met ’n koppie tee as jy by die huis is. As dit nie werk nie, dink aan al daardie planne wat jy het . . . Hoeveel moeiliker gaan dit wees om te bereik met ’n babelas? “Ek het besef om Sondae ná ’n woeste gekuier die vorige aand te swot is onmoontlik toe ek een Maandag ’n toets gedop het,” sê sy.

GROEPSDRUK

Vriende kan soms baie druk op jou sit om heeltyd koel te wees. Ja, dit lyk dit of drank jou gelukkiger of spontaner maak, maar dis ook makliker vir dinge om handuit te ruk, soos met Grace (17) gebeur het – sy is geskors uit die kosskool nadat sy een aand saam met haar vriende uitgeglip het. “Een van my vriende het te veel gedrink en moes hospitaal toe gaan. Die onderwysers moes ons optel en ek is geskors.” Onthou, as hulle jou ware vriende is, sal hulle van jou hou as jy nugter is. Stel ander goed voor wat jy sonder alkohol kan doen, soos om uit te gaan vir koffie of te gaan fliek.

REBELSE STREEP

Fiona* (13) het gesien hoe haar ouer broer haar ouers se reëls die afgelope twee jaar met sy gedrinkery breek. “Hy verwag ek moet vir hom beskerm. Ek raak so bang namens hom, maar ek wil nie vir ons ouers vertel nie,” sê sy. ’n Gedrinkery kan by die dood draai en jy moet jouself beteuel voor dinge skeefloop. Jy hoef nie iets onwettigs te doen vir opwinding nie – kry ’n ander uitlaatklep vir jou energie, soos om in ’n musiekgroep te speel of skopboks te oefen.

DIE SOSIALE VLINDER

Partytjies is koel, maar kan ook beteken jy drink elke naweek. Laat die 16-jarige Kaitlin-Lee* dien as waarskuwing. “My beste vriendin het vir my ’n drankie by ’n partytjie gegee en ek het baie snaaks en laf begin optree. By die volgende partytjie wou ek weer die snaakse meisie wees en toe drink ek weer. Ek het so dronk geraak dat ek in die tuin gepiepie het en iemand het ’n foto geneem wat my ‘vriendin’ toe vir almal aangestuur het.” Eina!

GOOI DAAI FLIKKERS

Ja, jy het meer selfvertroue om flikkers te gooi as jy aangeklam is, maar jy kan ook jou naam lelik met ’n plank slaan of iemand kan jou misbruik. “Ek het baie van ’n ou gehou, maar het te veel gedrink en later onduidelik gepraat en sleg gelyk. Hy het agterna vir my vriende gesê hy het gedink ek was desperaat,” vertel  Lerato* (15). Dink aan ’n partytjie as jou kans om mense te beïndruk – nie om so dronk te raak dat jy jou vriende vervreem en die helfte van jou besittings verloor nie

Tekens dat jy te ver gegaan het

Kopseer, naarheid en braking, bewe, seer lyf

Die gevolge

Jy kan nie enige van dié dinge ongedaan maak as jy te ver gegaan het nie: Dronkbestuur, onveilige seks, aangetaste breinontwikkeling, beserings of selfs die dood.