In die ongeduldige, selfsugtige moderne lewe kom ons soms glad nie daarby uit om ons kinders te leer om hulleself en ander te respekteer nie,  sê Zelda la Grange, ons blogger oor geweld teen vroue en kinders.

[caption id="attachment_60684" align="aligncenter" width="600"]629px-Teach-Your-Child-the-Importance-of-Gratitude-Step-7 Foto: WikiPhoto[/caption]

ONS val soms so in tegnologie vas dat ons vergeet wat dit beteken om kinders groot te maak wat spiritueel gesond is. Sosiale druk het die laaste dekades kwaai toegeneem en ons is maar te bly as ons kinders hulle self kan besig hou met rekenaars, tablette of slimfone sodat ons ’n bietjie tyd aan ons eie dinge kan wy.

Baie ouers het min tyd om hul kinders te help om belangrike waardes, respek inkluis, te ontwikkel. Dit sluit in respek vir onsself en vir ander mense.

En ons weet dat gebrek aan respek tot geweld kan lei. Mense word nie gewelddadig gebore nie. Jy wórd gewelddadig. En as jy kan leer om gewelddadig te wees, kan jy ook leer om dit nié te wees nie.

In die moderne wêreld is ons ook baie ongeduldiger as voorheen. Ons verwag onmiddellike resultate – ook in verhoudings. As ons dit nie kry nie, druk ons eenvoudig die proses tot waar ons hom wil hê . . . en soms is dít ’n resep vir geweld.

Ons het so selfsugtig oor ons tyd en ons eie gevoelens geword dat ons respek nie meer as belangrik beskou nie. Dan is ons almal geskok as hartverskeurende stories soos dié van Anene Booysen en Ina Bonnette koerantvoorblaaie haal. Ons praat en sê hoe bekommerd ons is, maar dit doen niks aan die oorsaak van die probleem nie.

Want wat ons nie erken nie, is dat ons eintlik daardie soort gemeenskap ondersteun deur nie tyd te maak om aandag aan die belangrike dinge te skenk nie.

- Zelda

 Zelda picSMALL  Zelda  la Grange blog tot 10 Desember elke weekdag  vir ons tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Dié bekende en gewilde vrou werk steeds as Madiba se persoonlike assistent vir die Nelson Mandela-stigting en hou ook motiveringspraatjies. Sy is aktief betrokke by projekte soos Bikers for Mandela Day en Sisters with Blisters in haar rol as beskermvrou van die 1st for Women Insurance-trust. Een van haar lewensdoelstellings is om SA vroue te help bemagtig.