Sosiale media kan wonderlik wees; jy kan foto’s en nuus met vriende deel, kyk wat in die wêreld aangaan en kontak behou met vriende en familie wat ver weg woon.

Maar netwerke soos Facebook bied ongelukkig ook ’n paar frustrasies, veral wanneer ma’s dit beetkry.

Hier is die 10 soorte ma’s wat ’n mens op Facebook teëkom.

Die resep-mamma

Haar tydlyn en profiel is niks anders as resepte nie, en jy wonder of dié vrou ooit die tyd kry om al die geregte te beproef wat sy so graag deel. Jy kan boonop agterkom wanneer sy deur ’n nageregfase gaan of wanneer sy besluit die gesin moet ’n bietjie vet afskud en skielik net slaairesepte begin deel.

Tipiese inskrywing: “Sjoe, kan nie wag om hierdie neut-en-dadel-bolletjies te bak nie! Lyk amper lekkerder as gister se sjokoladekoekies.”

Die fikse mamma

Wanneer jy met ’n lekkerny agter jou rekenaar inskuif vir ’n lekker Facebook-sessie en peuselhappie, het jy beslis nie lus vir die fikse ma nie wat permanent aan die oefen is.

Wanneer sy nie foto’s deel van ’n elle lange fietstoer wat sy onderneem het nie, is dit selfies uit die gim of foto’s van haar nuwe oefenklere. En hoe meer sy oefen, hoe skuldiger voel jy omdat jy nie ook so maak nie.

Tipiese inskrywing: “Lekker 10 km-drafsessie voor werk. Sien uit na die naweek se wedloop!”

Die is-jy-dan-’n-ma?

As jy nie van beter geweet het nie, sou jy jou verbeel hierdie ma is kinderloos! Haar profiel is net partytjies en uithanggeleenthede met geen spoor van haar spruite nie.

Tipiese inskrywing: “Pootuit ná gisteraand! Dankie Janine en Stefan vir die lekker partytjie – kop is lekker seer vanoggend ;)”

Die spog-mamma

Jy sal nie sommer wonder of hierdie ma kinders het nie, want sy vertel jou gedurig van alles wat hulle bereik. Met al hul goue medaljes op die sportveld en pryse vir topprestasies is hierdie ma se kinders uitblinkers, en sy maak seker jy weet dit.

Tipiese inskrywing: “So trots op André. Weer eerste span se kaptein, én ons het vandag gehoor hy is aanvaar vir medies! Te opgewonde!”

Die selfdoen-mamma

Jy is soms selfs te lui om kos te maak, maar hierdie ma se vlytige hande staan vir niks verkeerd nie. Pas verlede week het sy self die kinders se kamers oorgedoen, en vandeesweek kry die voorportaal ’n regruksessie met haar mosaïekteëlprojek. En volgende maand verjaar haar jongste, en moenie dink sy sal iets koop wat sy self kan maak nie!

Tipiese inskrywing: “Gister hierdie houtrame vir die meisies se kamer gemaak. Niks meer as R30 vir albei gekos nie, en hulle is mal daaroor!”

Die kla-ma

Almal weet kinders is soms uitdagend, maar hierdie ma se profiel is een lang gesanik. As haar middelste kind nie sukkel met oorontsteking nie, dan kondig sy aan hoe die baba pas haar gunstelingbank met kryte bekrap het. Net ’n vinnige blik op haar tydlyn is genoeg om enige ma mismoedig te maak, en jy blaai maar liefs verby om haar alewige gekla te vermy.

Tipiese inskrywing: “R400 later om Stephanie se hare te laat sny. Nou vir kos maak . . . ai!”

Die te-veel-deel-ma

Jy voel soms jy woon saam met haar en haar gesin in die huis, want elke keer dat jy aanmeld op Facebook het sy iets nuuts gedeel. Jy weet nou al sy laai soggens agtuur haar kleinding by die oppasser af of wanneer die winkel die dag nie melk het nie. En moenie vergeet van gesinsvakansies en -naweke nie wanneer foto’s van hul uitstappies halfuurliks gedeel word.

Tipiese inskrywing: “Al het baba sleg geslaap, is die gesin nou lekker in die bed met tee en pannekoek en die koerant. Hierna vinnig Boeta se fiets laat regmaak en dan die langpad aandurf na ouma-hulle!”

Die paranoïese ma

Sy glo vas alles in die wêreld maak siek, vet of dood, en leen haar ore uit vir al wat ’n samesweringsteorie is. Van alledaagse kosse wat kanker veroorsaak tot slinkse komplotte deur ’n gewilde speelgoedvervaardiger vertrou hierdie ma niemand nie, en haar tydlyn is een lang waarskuwing.

Tipiese inskrywing: “NB! MOENIE hierdie produk vir jou baba gee nie. Daar is ’n kind in Amerika wat ’n halfuur daarmee alleen gelos is en toe byna dood is!!!”

Die geesdriftige amper-ma

Sy het nog nie die lewe geskenk nie, maar jy is reeds keelvol vir haar inskrywings. Die fotosessie wat sy gehad het, die sonars wat gedeel word, die babakamer wat geverf word, noem maar op.

Tipiese inskrywing: “Nog net 34 en ’n half slapies tot ons nuwe kleinding hier is. Ons vier die geleentheid met pienk kolwyntjies!”

Die gunste-ma

Vir haar is Facebook ’n hulpbron, en sy span dit in vir alles van raad tot gunste bedel. Al is haar aanhoudende gevra na ’n saamrygeleentheid, raad oor ’n siekte of aanbeveling vir ’n laerskool soms ’n kopseer, is dit die moeite werd om haar inskrywings te lees; dalk leer jy ook iets.

Tipiese inskrywing: “Ken enigiemand ’n betroubare balletjuffrou in Bloemfontein? Ook op soek na tweedehandse balletskoene, as iemand van iets weet!”