Tandemuis

DIS 3 vm. en jy skrik sopnat gesweet wakker – nie omdat jy jou baba moet voed of omdat jy ’n geluid gehoor het nie, maar omdat jy iets lewensbelangriks vergeet het! O ja . . . jy het vergeet om die tandjie uit jou sewejarige se pantoffel te verwyder en dit met geld te vervang. Jy strompel in die donker rond en probeer om nie die alarm te laat afgaan nie tot jy uiteindelik ’n paar munte raakvat en skelmpies die ruiltransaksie beklink.

Ek het begin wonder oor dié deel van ouerskap: ons vasberade instandhouding  van fantasieë oor die tandemuis, Kersvader en die paashaas. Hoekom doen ons dit?

Ek dink dit gaan oor die onskuld van ons kleingoed – daardie onbedorwe jare wanneer die wêreld ’n veilige plek is, die lewe prettig is en jy nie ’n enkele bekommernis saamsleep nie. Dis kosbare jare hierdie. As jou kind ophou om aan dié fantasieë te glo, sê dit soveel meer as net dat hulle grootword – dit sê hulle gaan binnekort begin raaksien dat die wêreld nie net uit hasies, muisies en geskenke bestaan nie. ’n Ou man met ’n baard is nie noodwendig ’n vriendelike siel wat presente aandra nie, maar kan gevaarlik wees of trauma  met hom saambring.

Ons smag daarna dat ons baba se onskuld onaangeraak bly en dat ons kleintjies altyd veilig voel. Iewers is die treetjie baie kort van agterkom die tandemuis bestaan nie tot agterkom die wêreld daar buite kan vol onheil wees.

Dis moeilik om ’n ouer te wees en een van ons grootste take is waarskynlik dat ons ons kinders moet beskerm. Ek raai die les is om jou kind se onskuld te bewaar, maar hom of haar ook toe te rus om dit te kan hanteer wanneer die borrel bars en hulle teleurgestel word.

 - Meg

Meg small Meg Faure is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap.Sy is  medeskrywer van dié topverkopers:  Baby Sense, Sleep Sense,  Feeding Sense en Your Sensory Baby. Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die beginsels wat in haar boeke bespreek word.