Vir sommige kinders is dit doodmaklik, maar vir dié wat nog nie weet in watter rigting hulle ná skool wil studeer nie, kan dit angswekkend wees om nou al net sekere vakke te kies.

“Die kies van vakke vir graad 10 en daarna verg baie selfondersoek en navorsing, en jy moet die regte vrae vra,” sê Claudia Swartzberg, HUB van ’n instelling wat leerlinge van hulp en raad voorsien.

“Selfs al lê ’n kind se naskoolse opvoeding nog jare in die toekoms, kan die kies van die regte vakke nóú ’n leerder se toekoms in die regte rigting stuur en in ’n groot mate iemand se loopbaan bepaal. Leerders en hul ouers behoort die regte vrae te vra en ’n paar basiese riglyne te volg om die beste vakkeuse te maak.”

Dit sluit in:

  • Raadpleeg ’n opvoedkundige sielkundige wat kan verduidelik wat die werkwêreld verwag en ook hoe om ingeligte keuses te doen, gebaseer op dit wat eendag van hulle verwag sal word.
  • Praat met tersiêre adviseurs en doen navorsing op webtuistes van universiteite en kolleges. Leerders kan dan agterkom watter kursusse beskikbaar is en wat die toelatingsvereistes is.
  • Moedig jou kind aan om nie agter hul maats aan vakke te kies nie, maar eerder dié vakke te kies wat later vir hom/haar loopbaandeure kan oopmaak.
  • Hoewel vakke met die oog op ’n toekomstige loopbaan belangrik is, moet ’n leerder ook in gedagte hou wat hom/haar gelukkig maak. Dít sal uiteindelik lei tot ’n volhoubare loopbaankeuse wat hom/haar ook gelukkig maak.
  • Toelating tot tersiêre inrigtings word gegrond op prestasie, dus kan dit beter wees vir jou kind om vakke te kies waarin hy/sy dalk beter kan vaar – selfs net twee sterk vakke kan die gemiddelde punt ’n hupstoot gee.  Die aanlynplatforms van die sekere tersiêre adviseurs gebruik kunsmatige intelligensie (artificial intelligence) om studente se toetse en eksamens te ontleed ten einde hul sterk en swak punte op akademiese gebied te bepaal.
  • Leerders behoort nie vakke te kies op grond van die onderwyser wat dit aanbied nie. Onderwysers kom en gaan en jou kind se geliefde onderwyser onderrig dalk nie jou kind tot in graad 11 of 12 nie. Of daardie streng en ongewilde wetenskaponderwyser is dalk nog net ’n paar maande by die skool, en dan het jou kind verniet wetenskap as vak prysgegee.
  • Jou belangstellings en dit wat jy wil studeer kan oor die jare verander, daarom is dit belangrik om seker te maak jou keuses beperk nie jou opsies in die toekoms of maak dalk deure vir jou toe nie. Wiskunde is byvoorbeeld ’n vereiste vir talle gewilde naskoolse studierigtings soos handels-, ingenieurs- en wetenskapgrade. Wiskunde as skoolvak is dus ’n goeie keuse om te verseker dat jy wel dié geleenthede in die toekoms het.
  • Ander vakke, soos rekenaarwetenskap, gee jou vaardighede vir ’n verskeidenheid loopbane.
  • Probeer kalm bly en benader die besluitneming so koelkop as moontlik

Vir meer inligting, besoek die webwerwe van tersiêre adviseurs soos www.mytopdog.co.za