Daar was dalk groot opgewondenheid toe jou jongeling Woensdag die eerste keer skool toe is, maar die eerste Maandag ná die groot dag is dikwels ’n totaal ander saak . . .

Ons het Nora Rossouw, gr. 1-vakhoof van die Laerskool Totius in Kaapstad, gaan vra wat jy kan doen om die blou Maandag vir jou graadeentjie af te weer.

  • Belowe om ’n spesiale eetdingetjie in die kosblik te sit.
  • Plak ’n foto van die gesin op sy potloodblikkie sodat hy deurentyd daarna kan kyk, sou hy wou.
  • Nooi ’n maatjie die naweek om by die huis te kom speel. Dit sal goeie motivering wees om skool toe te gaan omdat hulle mekaar weer sal sien.
  • Herinner hulle daaraan dat hulle nou regtig gaan leer hoe om te lees, skryf en somme te maak.
  • Belowe hom dat julle ná skool ’n spesiale tydjie sal hê waartydens hy vir jou kan vertel wat hy geleer het.
  • As jy agterkom daar is iets spesifieks wat hom pla, moedig hom aan om vir jou te vertel en bespreek dit dan met die juffrou.

Marelize Potgieter