Ons weet daar is groot druk op Suid-Afrika se onderwysstelsel. Baie kinders het nie toegang tot gehalte-handboeke nie en weens ’n gebrek aan tegnologie in skole is skoolverlaters selde toegerus om werk te doen wat basiese rekenaarvaardighede vereis.

Huisgenoot wil die situasie begin verander deur 12 van die land se beste onderwysers te beloon met waardevolle tegnologiese en ander hulpbronne wat die manier waarop hulle klasgee vir altyd kan verander. As jy ’n leerder of ouer is wat al so ’n onderwyser ontmoet het of ken – iemand met waagmoed en positiewe energie, wat selfs die stelsel aanvat om verandering teweeg te bring en met hul harde werk ’n verskil by jou skool maak – benoem hulle vir die Kopskuifonnies-projek.

Huisgenoot sal vir 12 maande elke maand ’n wen-onnie kies en hulle beloon met pryse wat hulle sal bemagtig om selfs ’n nog beter onderwyser te wees.

Wat jou onderwyser en skool kan wen

  • ’n Apple iPad-geskenkpak ter waarde van R120 000, geborg deur verskeie ondernemings. Elke geskenkpak bevat 20 iPads met Wi-Fi en ’n 16 GB-geheue, hul omslae, ’n MacBook Pro en ’n multipasstuk, ’n projektor en ’n iTunesbegroting wat groot genoeg is vir enige apps gefokus op die leerplan.
  • Die onderwyser wen ’n eie iPad vir gebruik in die klaskamer en vir persoonlike gebruik, geborg deur iSchoolAfrica.
  • Hy of sy kry ook opleiding om die iPad as ’n onderrighulpmiddel te gebruik en om dit suksesvol by die Suid-Afrikaanse leerplan te integreer. iSchoolAfrica borg die opleiding.
  • Die onderwyser sal ook deel word van die iSchoolAfrica-gemeenskap waar hulle ondersteuning en raad sal ontvang.
  • Oxford University Press sal die skool se behoefte aan handboeke en studiegidse bepaal.
  • Die skool wen R20 000 se boeke soos handboeke, studiegidse en woordeboeke volgens die skool se behoeftes soos dit deur Oxford University Press bepaal is.
  • Die skool sal deel word van die Oxford Focus School-projek. Dit het talle langdurige voordele, soos slypskole vir onderwysers na gelang van die skool se bepaalde behoeftes.

Benoem so ’n onderwyser

  • Skole, kinders en ouers kan ’n onderwyser in hul gemeenskap benoem.
  • Dit kan ’n onderwyser by ’n laerskool, hoërskool, skool vir leerders met spesiale behoeftes, privaat of openbare skool wees – ons wil graag weet van dié onderwyser wat ’n verskil maak.
  • Skryf vir ons ’n brief van hoogstens 300 woorde met spesifieke redes waarom hierdie onderwyser verdien om te wen en waarom hulle boeke en iPads vir die klas moet kry. Noem projekte, spesifieke voorvalle en resultate in die skool, klas of gemeenskap en sê ook hoe die boeke en iPads hul klas kan help.

Hoekom iPads?

"Die iPad het ’n omwenteling in die wêreld veroorsaak en ons land se kinders sal agterbly as hulle dit nie kan ervaar nie. Ons glo iPads bied nuwe maniere om ingewikkelde konsepte te leer en te verstaan wat noodsaaklik is om in die 21ste eeu te leef, leer en werk doeltreffend te bekom. iSchoolAfrica is ’n organisasie wat daarna streef om skole in Afrika die beste opvoed- kundige tegnologie te gee; 100 skole in Suid-Afrika gebruik iPads as deel van hul projek. Onderwysers merk betekenisvolle gedragsverskuiwings by hul leerders op, soos verhoogde motivering en betrokkenheid.”

– Michelle Lissoos, die hoof van iSchoolAfrica

[Die kompetisie het reeds gesluit.]

Klik hier vir die pdf weergawe van die artikel.