Diabetes is by ’n driejarige, Amerikaanse dogtertjie, wat aan vetsug ly, gediagnoseer; deskundiges meen sy is een van die jongste mense wat die siekte opgedoen het.

Sy het diabetesmedisyne gekry om haar bloedsuikervlakke onder beheer te bring.

Dr. Michael Yafi van die departement pediatriese endokrinologie aan die Universiteit van Texas, Houston, het sy bevindings op die konferensie van die Europese Vereniging vir die Studie van Diabetes in Stockholm aangebied.

Die 3½-jarige dogtertjie was by sy pediatriese kliniek om haar vetsug te laat evalueer.

Sy het buitengewoon dors geword en het ook die toilet baie dikwels besoek.

Hoewel haar ouers albei vetsugtig is, is daar geen familiegeskiedenis van diabetes nie.

Deskundiges het die dogtertjie se dieet bestudeer en bloedtoetse geneem, en toe bevind daar is “swak eetgewoontes by die gesin, met ’n onbeheersde telling van kilojoules en vet”.

Michael sê: “Die diagnose van tipe 2-diabetes is gegrond op simptome, fisieke bevindings van vetsug en laboratoriumuitslae.”

Die dogtertjie het begin met ’n vloeibare weergawe van die diabetesmedisyne Metformin, en haar ouers het voorligting ontvang rakende vetsug en ’n gesonde dieet.

Hulle is aangesê om die grootte van hul voedselporsies te beheer, kilojoules te tel en die hoeveelheid oefening wat die dogtertjie kry, te verhoog.

Die dogtertjie het gewig verloor en dit het daartoe gelei dat haar bloedsuikervlak gedaal het tot binne die normale perke.

Ses maande ná die diagnose het die dogtertjie ongeveer 26 kg geweeg, 75 persent van die gewig wat sy gehad het toe sy vir die eerste keer by die kliniek opgedaag het.

Bronne: eNCA, The Telegraph