Louise van der Merwe, ’n Afrikaans- en Engelsonderwyseres verbonde aan die plaaslike privaat skool Edugate, mag op die oomblik nie in aanraking kom met mense nie omdat sy chemoterapie vir klierkanker kry. Menslike kontak kan haar immuunstelsel verswak, wat haar toestand sal laat versleg. Maar Louise laat nie toe dat dit in haar pad staan om onderrig te bied aan haar gr. 11’s en 12’s nie.

Al is sy siek, gee sy nou vir hulle klas oor Skype.

Sy gee nou vir hulle klas oor Skype. Die skool het ’n kamera en platskerm in hul lokaal geïnstalleer. In Louise se huis is ’n kamer met ’n kamera en swartbord opgestel.

“Aan my klassituasie het niks verander nie,” het sy aan die Namibiese dagblad Republikein gesê. “Ek mis net fisieke kontak met die kinders.”

Die kinders skryf hul toetse en take in boeke neer wat in ’n boks gesit word waar Louise dit kom optel laatmiddag wanneer almal huis toe is.

“Aan die begin was dit ’n bietjie vreemd om juffrou op die skerm te sien, maar nou kan ons nie eens stout wees nie, want daar is kameras oral. Juffrou sien alles!” het een van haar leerders, Anje Hellwig, geskerts.

Bron: Republikein