Navorsers by die Rutgers-universiteit in Newark het die vokaalklanke in volwasse taal ontleed.

Toe het hulle ’n wiskundige model geskep wat verstaanbare spraakpatrone van nuuts af voorspel om te wys hoe dit kan lyk as spraak ontwerp word om kinders te leer.

Daarna het hulle ’n onderrigpatroon ontwerp met die spraakmetodes wat volwassenes teenoor mekaar en teenoor kinders gebruik, en toe bevind spraak wat op kinders gerig is, pas eintlik beter by die model.

Lees ook: Hoe om kinders in ’n veeltalige omgewing te onderrig

“Ons instinkte is verstommend in die kol,” het assistent-professor Patrick Shafto in ’n verklaring gesê. “Hoekom praat ons op ’n eenvoudige manier met kinders? Dit om hulle te help om die relevante eienskappe van taal te leer.”

Sodanige brabbeltaal sluit volgens die navorsers geluide in wat die belangrike eienskappe oordryf waaraan babas moet aandag gee en wat hulle moet leer. As jy op die regte wyse oordryf, leer die kind vinniger uit minder data.

Patrick verduidelik die kind sal mettertyd in staat wees om die eenvoudige taal in gewone taal te verwerk.

Dis moeilik om te bewys babataal het meer opvoedkundige waarde omdat babas onder ’n jaar nie kan praat nie en dit dus moeilik is om te bepaal hoeveel taalvaardighede hulle aangeleer het.

Lees ook: Help jou laerskoolkind só met sy taal-huiswerk

Daar is dalk egter ’n manier om dit te bepaal. Volgens Patrick praat volwassenes in Amerika nie net op ’n oordrewe maniere met babas nie; hul verwring ook hul taal teenoor diere en anderstalige mense.

Dit word egter in elke geval anders gedoen. En omdat ’n mens kan meet hoe anderstalige mense Engels aanleer, kan ’n mens volgens Patrick die spraakpatrone van instrukteurs wiskundig aanpas om die taal beter te onderrig.

Hy het verduidelik: “Deur die belangrike aspekte te manipuleer en die betekenisvolle onderskeidings in die taal uit te lig, kan ons Engels dalk meer leerbaar maak vir iemand wat ’n ander taal as moedertaal het.”

© Cover Media