Vakansietyd, vir onderwysers ook?

“Dis darem lekker om ’n onnie te wees! Dis ’n halfdag-“joppie” en jy kry vier vakansies per jaar!”

Menige onderwyser se nekhare kriewel wanneer mense met twee breinselle sulke opmerkings maak.

Halfdag-“joppie”? Ná skool is jy tot vieruur of vyfuur by buitemuurse aktiwiteite betrokke of woon jy vergaderings by. Nadat jy dan vinnig tyd en aandag aan jou man en eie kinders probeer gee, moet jy ook nog die res van die aand by die huis aan nasienwerk, voorbereiding, die opstel van toetse of die ewigdurende admin afstaan. Dit alles plaas ’n ekstra werklas op onderwysers.

Onderwysers kan ongelukkig nie – soos so baie ander beroepe – rus en vergeet van die werk wanneer hul amptelike werkure eindig nie. Wie sal dan sorg dat die talentvolle kinders op die sportveld, by die kunswedstryd of op die verhoog kan presteer en hul ouers – en die onderwysers! – trots maak?

So gepraat daarvan. Vier lekker vakansies vir onderwysers? Dink weer!

Onderwysers se vakansies word opgeslurp deur sporttoere, revue-kampe, leierseminare en nasienwerk ná eksamens. En natuurlik ook voorbereiding vir die volgende kwartaal se klasse.

Ek is, soos elke jaar hierdie tyd, saam met my seun by die krieketweek op Tzaneen. En is ek nie trots op hom en sy span nie! Die eerste twee wedstryde is agter die rug en sy span het gewen. Hierdie ma se hart klop warm wanneer hy daai middelpen boul dat die paaltjies so spat en sê: “Ma, het jy gesien? Daai middelpen was vir jou.”

krieket

(Nommer 27, wat boul, is sy ma se krieketheld!)

Die res van my vakansie gaan ek by die skool wees met revue-oefeninge. Ek geniet elke oomblik daarvan en gee nie om om my vakansietyd aan die skool en leerders af te staan nie; dis wat onderwysers doen. Boonop maak die oulike leerders van my skool elke sekonde die moeite werd met hul entoesiasme en toewyding.

Maar ek wonder of enigiemand buite die onderwysberoep al ooit gedink het waarom onderwysers die vier “vakansies” so nodig het?

As jy in ’n beroep is waar jy elke dag in ’n kantoor werk en jy moet op ’n sekere dag dalk ’n aanbieding by ’n seminaar doen, is jy nie aan die einde van daardie dag baie meer uitgeput as op die ander dae nie? Ja, jy is. Want jy moes vir die duur van jou aanbieding die kursusgangers se aandag behou en op jou voete dink vir vrae of reaksie op dit wat jy sê.

Dis wat onderwysers elke dag heeldag lank moet doen! En nie met beleefde, volwasse kursusgangers nie – met sommige stout, woelige en dikwels ongehoorsame en ongeskikte leerders wat onderwysers se selfbeheersing tot die uiterste toets. En nie net ’n halfuur of ’n uur lank nie, byna sewe uur lank per dag!

Ja, dis een van die hoofredes waarom onderwysers dit verdien om vier keer per jaar ’n ruskansie te kry, want hulle word emosioneel getap en het elke dag heeldag lank 40 wesentjies wat aanspraak maak op hul aandag en tyd. Dit is uitputtend!

So, ek wens elke onderwyser ’n sa-a-a-a-lige rustyd toe! Herlaai daardie batterye. Want een van die dae is die Filistyne weer op ons!

- Olga Channing

Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.