Een dag van dankbaarheid

Vandag is die dag dat jy verjaar, jy’s ons onnie, jy verjaar!

Say Hey! Hey! Hey! Hey!

Lekker verjaar! Lekker verjaar!

Say Hey! Hey! Hey! Hey!

Lekker verjaar!

Die hoof het pas op ’n rooi tapyt deur ’n erewag van leerders tot voor gestap. Hy neem sy plek in op ’n reuse stoel en elke graad bring ’n kaartjie en mooi boodskappie. Nadat die hoofseun die laaste “Baie geluk, Meneer!” gesê het, reën helderkleurige ballonne oor die vierkant.

Die hoof verjaar. Die skool is vrolik. En ek is bevoorreg. Bevoorreg om in ’n beroep te staan waar daar soveel meer beloning is as net die salaristjekkie aan die einde van die maand.

Ek het dit goed gedink om ons eerste geselsie oor die onderwys te begin met iets oor die hoof van ’n skool... daardie mens wat verantwoordelikheid neem vir alles in die skool.

Die mens wat so maklik deur ouers en leerders gekritiseer word, maar ook die eerste een is wat dadelik moet help en verstaan as daar ’n probleem is.

Die hoof moet dissipline handhaaf en die veiligheid van die leerders verseker, hy (of sy!) moet soms geduldig luister wanneer onregverdige kritiek of beskuldigings oor die skool of personeel rondgeslinger word...

Hy is dikwels ’n simpatieke raadgewer, ander kere ’n streng leier. Hy help om hartseer kinderharte te heel en moet altyd baie seker maak dat hy al die leerders, personeel en ouers bedank vir hul bydrae wat die skool ’n wen-skool maak. Maar wanneer en hoe word hy bedank?

Een keer per jaar met sy verjaardag?

Dis tyd dat hoofde en personeel van skole meer waardeer word vir die reuse en soms baie uitdagende taak wat hulle elke dag aanpak.

Kom ons sê dankie en is deel van die oplossing voor ons kritiseer en deel word van die probleem.

Onderwysers – en hoofde! – is ook maar net mense, gewone mense wie se gevoelens ook belangrik is, gewone mense wat hul beste gee en soms ook foute maak, gewone mense wat ’n dankie en ondersteuning baie nodiger het as negatiewe, dikwels ongeldige kritiek.

Maar miskien is ek verkeerd? Onderwysers is nie gewone mense nie. Hulle moet sekerlik superwesens wees, want hulle kan 40 kinders op een slag hanteer, leer en opvoed, terwyl daar mense is wat sukkel om dit met net een of twee kinders reg te kry...

- Olga Channing

olgachan

Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.