Ure op die sportveld en laatnag-merkwerk – onderwysers ken dié propvol roetine. Maar jou dag begin nie wanneer jy soggens by die personeelkamer instap nie. Daar is baie waarvoor jy vooruit kan beplan om jou dag vlot te laat verloop en stres te vermy.

“Daardie ou gesegde is waar: Gee my ses uur om ’n boom af te kap en ek sal die eerste vier gebruik om my byl skerp te maak. Sukses lê nie net in uitvoering nie, maar ook in beplanning.” So sê die lewensafrigter en motiveringspreker Godfrey Madanhire.

As jy nie jou tyd goed bestuur nie, sal jy nie jou doelwitte bereik nie, verduidelik Godfrey. “Of dit nou doelwitte binne jou gesinslewe of by die werk is, die kans is goed dat jy sal misluk sonder effektiewe tydsbestuur.”

“Effektiewe tydsbestuur is binne ons almal se bereik en hou baie voordele in! Jy sal meer effektief wees en voel, jy sal professioneel voorkom en mense sal jou respekteer.” Op ’n persoonlike vlak sal jou eie effektiwiteit ook vrugte dra, sê Godfrey. “Jy sal meer ontspanne wees en meer geduld met jou geliefdes hê.”

Hier is Godfrey se tien wenke virbeter tydsbestuur.

  1. Bepaal hoeveel jy op die oomblik doen

    Voor jy kan besluit of jy iets nuuts wil aanpak, maak seker dat jy presies weet hoeveel jy alreeds doen. Gebruik ’n dagboek of slimfoon en maak vir ’n week lank notas van hoe jy jou tyd spandeer. “Bereken dan hoeveel vrye tyd jy het en hoeveel daarvan jy potensieel bereid is om op te gee,” sê Godfrey.

  2.  Effektiwiteit

    Hierdie wenk kan in vyf woorde opgesom word: Werk slimmer, nie harder nie. “Jy sal verstom wees om te sien hoeveel tyd jy kan spaar deur take wat jy op dieselfde tyd kan doen te kombineer,” verduidelik Godfrey. Hy stel voor dat jy take groepeer op grond van ligging. As die winkel byvoorbeeld naby jou kinders se skool is, sorg dat jy jou inkopies koördineer met jou op- en aflaai. “Dit klink dalk eenvoudig, maar jy sal verbaas wees hoeveel mense dit nie doen nie en onnodige tyd mors.”

  3. Evalueer jou take behoorlik

    “Een van die maklikste foute om te maak is om iets aan te pak wat eenvoudig lyk, maar op die ou end alles behalwe maklik is!” Dit kan wissel van ’n liefdadigheidsprojek by jou werk tot spesiale kolwyntjies vir jou kleuter se verjaardagpartytjie. “Dink mooi deur iets voor jy dit aanpak: skryf neer hoeveel tyd elke stap jou gaan vat. As jy potensiële slaggate vroeg kan identifiseer, het jy genoeg tyd om dit te hanteer of dit selfs heeltemal te vermy.”

  4. Vra vir hulp

    “Te veel van ons is te bang om vir hulp te vra as ons dit nodig het,” sê Godfrey. “’n Mens is bang as jy delegeer, gaan iemand anders dit nie so goed soos jy kan doen nie, of dat jy dalk onbevoegd gaan voorkom. Maar ’n helpende hand help jou gewoonlik om vinniger te werk, en dit maak take dikwels ook lekkerder.” Dit is nie net in die klaskamer waar dit belangrik is om te delegeer nie. “Ma’s wat dit nie doen nie, behoort hul kinders te betrek by huistakies, soos skottelgoed. Of praat met jou man oor kosmaakbeurte as jy voel jou doenlysie raak te lank.”

  5. Sê nee

    As iets nie die moeitewerd is om te doen nie, moet dit nie doen nie. “Dit is baie bevrydend om tyd los te maak wat andersins gemors sou wees op iets wat jy nie eintlik hoef te gedoen het nie.”

  6. Neem ’n blaaskans

    “As ’n mens te hard werk vir te lank, sal dit jou so uitput dat jy stadiger en minder effektief sal werk,” sê Godfrey.  “Neem ’n breuk, spandeer tyd op jouself en jy sal verfris voel en makliker weer doen wat van jou verwag word.”

  7. Beplan vir onderbrekings

    Dit is gevaarlik om jou dag so vol te prop dat daar geen beweegruimte is nie. “Dinge verloop bitter min presies soos wat ’n mens dit beplan het. Bou buigsaamheid by jou program in, sodat ’n klein probleempie nie beteken jou hele dag stort in duie nie.”

  8. Moenie die moeilike take uitstel nie

    “Ons het almal daardie een taak op ons doen-lysie wat ons net nie wil doen nie, en ons sal enigiets anders doen as dit beteken ons kan dit nog ’n bietjie uitstel,” sê Godfrey. “Die beste manier om hierdie take te hanteer is om net te begin en te kyk wat gebeur. Die moeilikste deel is gewoonlik om te begin, as jy eers daai pak merkwerk begin takel, sal dit dalk heelwat minder moeite wees as wat jy verwag het.”

  9. Prioritiseer

    “Partykeer gaan ’n mens net nie alles gedoen kry nie. Dit is ongelukkig so. Daarom is dit belangrik om te prioritiseer.” Godfrey stel voor dat jy jou take kategoriseer in volgorde van belangrikheid en dringendheid. Take wat hoog op altwee lysies moet eerste gedoen word.

  10. Beplan

    Beplanning loop soos ’n goue draad deur al die verskillende wenke, sê Godfrey. “Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie! Die ekstra tyd wat beplanning gaan neem voel dalk vir jou soos ’n vermorsing, maar op die ou end kry jy alles vinniger gedoen.” Werk aan die begin van jou dag (of die vorige aand, as jy dit so verkies) deur al die dinge wat jy op die dag gedoen wil kry. “Hou die ander wenke in gedagte, sodat jy ’n skedule kan uitwerk wat effektief en doenbaar is.”