Die Kapenaars Terri Lailvaux, ’n raadslid van Claremont met ’n agtergrond in onderwys, en Gill Molteno, ’n opvoedkundige sielkundige, gee wenke oor hoe om die eksamentyd vir jou kinders makliker te maak. Gill is ook die direkteur van Study for Success, ’n vakansiekursus vir hoërskoolleerders.

Ouderdom 7-10

  • Hou studie prettig en interessant deur self daarby betrokke te raak. Jy kan van die studiemateriaal in ’n wedstryd of vasvra gebruik.
  • Maak ’n lys van wat hulle moet leer, en help hulle om dit af te merk sodat hulle kan sien hoe hulle vorder.
  • Leer hulle werk kom voor speel sodat hulle nie uitstel om te leer tot hulle moeg is nie.

Ouderdom 12-14

  •  Maak seker jou kind weet wat om te studeer en hoe lank om dit te doen.
  • Verwyder tydvrate soos selfone, televisie en rekenaars tydens die studietyd.
  • Op hierdie ouderdom behoort studente op hul eie opsommings te kan maak en studeer. Tog kan ouers seker maak al die inligting is daar, veral as die kind leerprobleme het, nie motivering het nie of sy aandag maklik afdwaal.
  • Wees bewus hierdie kinders is besig om by die hoërskool aan te pas wat dalk ’n ander skoolstelsel, groter werklas en nuwe eksamenformaat het.
  • Moedig hulle aan om ’n studiegroep te begin, al is dit met net een maat, of jy! ’n Mens onthou makliker wanneer jy iemand iets leer; laat hulle jou dus leer en vra hulle vrae daaroor.

Ouderdom 15-18

  • Hou die huis stil tydens eksamentyd, gee die student minder huiswerkies en hou jou jonger kinders besig.
  • Sit drie of vier weke voor die eksamen begin saam met jou tiener en bespreek hoe lank hy op weekdae en naweke voor en tydens die eksamen sal studeer. Kom saam daaroor ooreen.
  • As ’n tiener in sekere eksamens sleg vaar, moet die ouer dalk die volgende termyn spesiale maatreëls tref, soos om rekenaarspeletjies tydens die week te verbied.
  • Om saam na ’n rolprent of YouTube-video oor ’n sekere onderwerp te kyk of op die internet daaroor navorsing te doen kan ’n maklike bykomende manier vir jou tiener wees om te studeer en dinge te onthou.
  • Vir ’n lys waardevolle aanlyn studiekursusse, klik hier.

Bykomende bronne: ANXIETYBC.COM, KIDSHEALTH.ORG, YOUNGMINDS.ORG.UK, MUMSNET.COM, BBC.CO.UK, K-STATE.EDU, OPRAH.COM.

Deur Kim Arendse