IS JY raadop met jou kleuter wat nie groente wil eet nie? Of bekommerd oor jou kind se asma-aanvalle? En hoe gemaak met jou tiener wat net nie regkom met wiskunde nie; moet hy liefs wiskundige geletterdheid neem?

Hier is goeie nuus: Huisgenoot, saam met Checkers, stel ’n nuwe projek, SuperMa, bekend. Nou is die antwoorde op al jou kwelvrae net ’n klik ver. En jy kan hulp op ’n reeks platforms kry: ons webtuiste, Twitter, Facebook, Pinterest en natuurlik die tydskrif self.

Huisgenoot-SuperMa is die steunpilaar wat jou gaan help om dit wat jy doen, net nog beter te doen. Ons weet mos ’n ma se werk is nooit klaar nie . . .

Jare al is Huisgenoot vir ma’s oor die land ’n bron van hulp en inspirasie. Ons gee raad as jou kind geboelie word en skryf oor die nuutste planne met die kurrikulum. Nou is al die inligting ook aanlyn beskikbaar, in vyf inhoudskategorieë vir maklik soek.

Ons gee jou presies wat jy nodig het, of jou kind nou drie of 15 is.

Die kategorieë

’n Paneel ma’s het saam met ons gedink en die vyf inhoudskategorieë geïdentifiseer. Die webtuiste is ook hiervolgens ingedeel.

Kos: In dié kategorie gee ons jou slim idees en resepte vir van ontbyt tot aandete, plus slim oplossings vir kosblikke en partytjies.

Pret: Lus vir ’n doen-dit-self-projek waarmee jy sommer op die koop toe jou agtjarige se kamer kan mooimaak? In dié kategorie gee ons jou die antwoorde: van raad met verjaardagkoeke tot goedkoop Valentynsbalrokke vir jou tienerdogter.

Gesondheid: Hier kry jy raad oor noodhulp, kennersmenings oor koors of kroep, die jongste nuus oor aandagafleibaarheid – alles wat jy wil weet om jou kind se welstand te verseker.

Huiswerk: Hoor wat kenners sê oor hoe jy jou kind kan help leer, en vir die ouers van kleintjies gee ons waardevolle wenke om ontwikkeling te stimuleer. “Huiswerk” is lankal nie meer iets wat eers in die laerskool begin nie. Maak hulle vroeg al slim!

Raad: ’n Algemene kategorie met iets van alles – van raad as jy skei tot hulp as jy met jou kind oor seks wil praat.

Omdat kinders verskillende ontwikkelingsfases het, verdeel ons die inhoud op die webtuiste in ses ouderdomskategorieë. Kies jou kind se ouderdom in die tuimelkieslys boaan die blad, en net die artikels in die inhoudskategorieë wat op jou gesin van toepassing is, sal verskyn.

Die ouderdomskategorieë lyk so: 0-1, 2-3, 4-5, 6-9, 10-12 en 13-16.

Die tydskrif

Wees op die uitkyk vir weeklikse nuus en stories van regte ma’s en die uitdagings wat hulle te bowe moet kom. Leer by hulle en raak deel van ons SuperMa-gemeenskap. Lees ook wat jy op die web en ons sosiale platforms kan kry.

Op die web

Raad is net ’n klik ver. Besoek huisgenoot.com op jou rekenaar of tablet en klik op die kategorie SuperMa. Jy kan dit ook op jou slimfoon lees. Gebruik die eenvoudige soekfunksie en kry presies wat jy wil hê.

Facebook

Word deel van ons gemeenskap. Op ons SuperMa-blad op Facebook kan jy met ander ma’s praat, raad uitdeel en hulp vra. Dis hier waar jy op ander kan steun. Deel staaltjies, kry idees vir vakansieplanne of gee jou mening oor die dag se sake. Besoek facebook.com en soek vir Huisgenoot-SuperMa.

Pinterest

Dié platform is ’n digitale plakboek vol idees – ’n skatkis waar jy kan put uit ander mense se kreatiwiteit en joune kan deel. Daar is klaar ’n hele paar borde: idees vir kinderpartytjies, planne met gesinsfoto’s, mooi kinderklere, kinderkamers, doen-dit-self-projekte of sommer net inspirerende woorde wat jou dag  sal ophelder. Besoek pinterest.com/hydsupermom (ons deel ons blad met ons sustertydskrifte YOU en Drum).

Twitter

Wat is die lewe sonder ’n voëltjie wat fluit? Op Twitter gee ons jou regdeur die dag nuus en brokkies oor wat op die SuperMawebtuiste aangaan, wat op ons Facebookblad gebeur en ander nuus waarvan jy moet weet. Volg ons, deel twiets waarvan jy hou en bly op die hoogte van sake. Vind ons op Twitter by @HGSuperMa.

Teken in op ons nuusbrief

Maak seker jy teken in op ons weeklikse nuusbrief. Wanneer jy op ons webtuiste klik, sal ons jou vra om ’n kort vraelys in te vul. Dis net 'n handvol vrae, onder meer jou kinders se ouderdom, waar jy woon, jou selfoonnommer en e-posadres. Dié inligting is privaat en sal nie aan ander mense bekendgemaak word nie. Jy kan ook op die nuusbrief inteken deur op die nuusbrief- skakel op die webtuiste te klik. Jy sal weekliks ’n pasgemaakte nuusbrief kry wat op jou profile gegrond is.

  • As jy met ons wil praat, stuur e-pos na superma@huisgenoot. com.

Kry ons hier