1. Beplan vroegtydig. Dink na oor watter kleure die beste by jou natuurlike skakering pas, asook watter styl rok jy verkies. Knip prente uit tydskrifte en maak ’n storiebord met verskillende style. So kan jy uitvind waarvan jy hou en wat die beste by jou sal pas.
  2. Kies die regte metgesel. Jy moet jou maat versigtig uitsoek, want hy of sy gaan vir ewig en altyd op jou matriekafskeidfoto’s pryk. Nooi iemand met wie jy gemaklik voel en pret kan hê. As jy al ’n rukkie jou oog op iemand het, neem nou jou kans waar. Koop ’n oulike kaartjie en sy/haar gunstelingsjokolade, en vra die vraag betyds sodat hy of sy ook kan voorberei op die groot aand.
  3. Kry die perfekte rok. Vir meisies is dit selfs belangriker as die perfekte metgesel. Kies ’n rok wat jou soos ’n ware prinses laat voel. As jy iets unieks soek, gaan na ’n naaldwerkster sodat sy vir jou ’n rok kan help ontwerp en maak. Dis dikwels goedkoper as ’n boetiek of modeontwerper omdat jy materiaal van goeie gehalte kan koop teen ’n billike prys. So nie kan jy dalk in die winkels rondsnuffel en uitvind watter ontwerpers het die mooiste rok vir jou.
  4. Die grimering. Ware skoonheid kom van binne; daarom het jy tien teen een skaars grimering nodig. Maar as jy goed wil lyk met al die flitsende kameras rondom jou, sal ’n bietjie onderlaag en lipstiffie nie skade doen nie. WENK: Moenie ’n heel nuwe voorkoms net voor jou matriekafskeid beproef nie. Eenvoud is die wagwoord. Moenie jou oogskadu oordoen nie, maar onthou om lipstiffie en maskara aan te wend.
  5. Die skoene. Maak seker jou skoene is gemaklik en dat jy maklik daarin kan loop. Dis uiters belangrik. Blase op ’n mens se voete kan bitter seer wees. ’n Bietjie hoogte kan ook nie skade doen nie, want dit laat jou slanker lyk.

Wees verantwoordelik, maar die heel belangrikste is: Geniet dit!

- Megan Bursey