Emma Sadleir, ’n kenner op die gebied van sosialemediawetgewing, sê ’n Facebook-blad kan ’n wonderlike hulpbron vir skole wees.

“Ouers kan op datum bly van gebeure by die skool en die skool kan terselfdertyd hul blad as bemarking gebruik om voornemende leerders te werf,” verduidelik Emma.

David Hartstein, ’n vennoot by ’n maatskappy wat webtuistes bou vir organisasies sonder winsbejag, sê Facebook is ’n uitstekende manier vir skole om met gesinne in aanraking te kom en vinnig inligting te deel.

“As ’n skool konsekwent nuwe, akkurate inligting deel, sal leerders en gesinne op die skool se Facebook-blad begin staatmaak as bron vir wat by die skool aangaan,” sê David.

Hy stel voor skole deel dié inligting:

  • Wat by die skool gebeur, byvoorbeeld sportwedstryde.
  • Toekomstige gebeure, soos die eksamen wat oor twee weke begin.
  • Aankondigings.
  • Foto’s en video’s van skoolgeleenthede.
  • Inligting wat personeel en leerders na die skool lok.
  • Vrae en besprekings om terugvoer van die ouergemeenskap te kry.

’n Facebook-blad stap-vir-stap

Jy kan binne 10 minute ’n Facebook-blad vir jou skool skep – jy hoef nie eers ’n bestaande Facebook-rekening te hê nie.

Kyk hieronder vir ’n stap-vir-stap-video oor hoe om ’n Facebook-blad vir jou skool te skep.

As jou skool nog nie so ’n blad het nie, bespreek eers die idee met jou skoolhoof. So trap jy op niemand se tone nie. Emma stel ook voor dat ’n beperkte aantal mense administrateursregte het vir die blad. “So is dit makliker om te beheer wie inligting op die blad mag deel,” sê sy.

Wat sê die wet oor foto’s van leerders op Facebook?

Emma sê foto’s van kinders kan vir bemarkingsdoeleindes gebruik word; dit is dus aanvaarbaar vir skole om foto’s van hul leerders te deel.

Die meeste skole het ’n klousule hiervoor in hul kontrak met ouers. “Soms vra ouers spesifiek dat foto’s van hul kinders nie vir dié doeleinde gebruik word nie, dan moet skole daarby hou.”

Sy stel voor die administrateur van die skool se Facebook-blad hou ’n lys van dié leerders byderhand.

Nog van Emma se veiligheidswenke vir skole wat Facebook gebruik:

  • Moet nooit kinders in foto’s merk nie.
  • As ouers die skool kontak en vra hul kind se foto’s moet verwyder word, moet die skool dit dadelik doen.
  • Moenie te veel foto’s van kinders deel nie. Een of twee van dieselfde leerder is voldoende.
  • Beperk wie as administrateurs toegang tot die blad het.
  • Moenie toelaat dat ouers namens die skool foto’s kan oplaai nie.
  • Monitor die kommentaar van ouers en ander mense wat die blad gebruik, sodat leerders se menseregte beskerm word.

KLIK HIER vir nog wenke oor Facebook-veiligheid vir skole.

Bronne: Fractuslearning, Mashable.