Nuwe navorsing het ontdek dat babas wat koeimelk in plaas van borsmelk of ’n melkformule drink voordat hulle ’n jaar oud is, ’n hoër risiko het om oorgewig of vetsugtig te raak. 

Meer as 1,000 kinders is geëvalueer en daar is ’n skakel gevind tussen die soort en hoeveelheid melk en die manier waarop hulle groei. Die gewig, lengte en liggaamsmassa-indeks (LMI) van kinders tussen een en 10 jaar oud, is bepaal. Agt maande oue babas wat die daaglikse aanbevole hoeveelheid (600 ml) of meer koeimelk gedrink het, het vinniger gewig aangesit as dié wat borsmelk ingekry het. Die verskil in gewig het standgehou totdat die kinders 10 jaar oud was. Kleintjies wat dieselfde hoeveelheid van ’n melkformule per dag gedrink het, was egter aanvanklik groter en hulle was ook, tot op die ouderdom van twee en ’n half jaar, swaarder in vergelyking met dié wat geborsvoed is. Van dié wat bestudeer is, het 13,2 persent op agt maande koeimelk gekry, terwyl 12,7 persent geborsvoed is en 74,1 persent slegs ’n melkformule gekry het.

"Dit kan voortgaan tot in hul volwasse lewe"

Dr Pauline Emmett, van die universiteit van Bristol, het die belangrikheid van die bevindings, wat in die die Amerikaanse Journal Of Clinical Nutrition gepubliseer is, uitgewys. “Dit kan bydra tot die ontwikkeling van vetsug by kinders, asook die gesondheidsrisiko’s wat daaraan gekoppel kan word, en dit kan voortgaan tot in hul volwasse lewe," het sy verduidelik. "Dit is belangrik dat ouers, sodra die kleintjies gewond is aan vaste kos, advies moet kry oor die vermindering van die hoeveelheid bottelmelk wat hulle inkry.”

"Moenie melk of kos as troosmiddel gebruik nie"

Volgens riglyne behoort ouers nie aan hulle kleintjies koeimelk te gee voordat hulle  ’n jaar oud is nie. Wanneer jy na ’n kind omsien, moet jy versigtig wees omtrent sy/haar melk/voedselinname.

Alhoewel babas gewoonlik op ses maande vaste kos kan begin eet, is melk in hierdie stadium die belangrikste voedselsoort. Wanneer die kleingoed ouer word, moet ouers nie melk of kos as troosmiddel gebruik wanneer die kleinding rusteloos is nie, want hy/sy is dalk nie honger nie.

© Cover Media