Die brandarm Lauren Fristen (25) het te min borsmelk vervaardig en kon nie formulemelk bekostig nie; daarom het sy haar borsmelk met water verdun en haar dogter, Naveah (10 weke), daarmee gevoer. Naveah, wat ten tyde van haar dood in Maart minder geweeg het as by geboorte, het gevolglik weens watervergiftiging gesterf.
Verdunde borsmelk kan egter die ontwikkeling van die baba se brein beïnvloed en tot gedragsprobleme lei.

Tydens haar hofsaak het Lauren verduidelik sy het geen ander keuse gehad as om die melk te verdun nie. Volgens ’n studie wat in 2011 deur ’n kinderhospitaal in Cincinnati onderneem is, meng meer as ’n kwart van Amerika se armste families borsmelk met water om dit meer te maak. Dit staan bekend as “formula stretching”.

Verdunde borsmelk kan egter die ontwikkeling van die baba se brein beïnvloed en tot gedragsprobleme lei. In Naveah se geval het die nadoodse ondersoek getoon sy het twee keer soveel water as borsmelk ingekry. Dit het haar sodium- en elektrolietvlakke so kwaai laat daal dat haar brein opgeswel het.

Dit het ook aan die lig gekom dat Lauren nie mediese hulp vir haar dogter gaan soek het nie, maar eerder staatgemaak het op die leiding van ’n “geestelike raadgewer”. Haar man, George Landell (26), word ook van die moord op Naveah aangekla omdat hy ook nie ingegryp het nie.

Die gesin word as “vreeslik gelowig” beskryf, en Lauren het glo tydens haar hele swangerskap alle sorg en vitamienaanvullings geweier. Sy wou aanvanklik nie eers hospitaal toe gaan vir die geboorte nie, maar moes toe ’n noodkeisersnee ondergaan.

Bronne: news.com.au, wtvm.com