Jy kan skaars dink jy sal ooit so ’n stelling hoor in mamma-kringe waar van vroue verwag word om enigiets wat moederskap op hul afdwing, die hoof te bied – en salig gelukkig te wees om dit te doen.

Maar is dit die werklikheid?

Mariëtte du Preez* van Pretoria het aan Huisgenoot gesê sy is lief vir haar seun, maar as sy weer kon kies, sou sy haar swangerskap beëindig het.

Anton* is liggaamlik en geestelik gestrem en kan op 29 nie self loop, praat of selfs eet nie. Hy dra ’n doek en is 24 uur per dag van Mariette afhanklik.

En Mariëtte is beslis nie al ma wat so voel nie; selfs moeders van heeltemal gesonde kinders erken hulle sou nooit kinders gehad het as hulle weer van voor af kon het begin nie.

Marie Claire het ’n roerende glansartikel geplaas waarin talle vroue, op voorwaarde van anonimiteit, eerlik gesels oor hul gevoelens van moederlike spyt.

Laura*, ’n 37-jarige joernalis van Los Angeles, is een van dié wat onthul dat sy altyd gedink het sy wou kinders hê – tot sy hulle gehad het.

“Die spyt het my getref toe die oumas huis toe en my man is terug kantoor toe en ek alleen was met hom,” sê sy. Ek het besef dis voortaan my lewe – en dit was ondraaglik.”

En dit wat aanvanklik na die simptome van nageboortelike depressie gelyk het, het nooit weggegaan nie.

“Ek het die situasie waarin ek my bevind het, gehaat, haat, haat,” erken sy.

“Ek dink die uitdrukking daarvoor is dat ek vasgekeer gevoel het. Nadat ek ’n kind gehad het, het ek besef ek haat dit om ma te wees van ’n baba, maar dit was teen daardie tyd te laat.

“Ek kon nie wegstap en daarna met myself saamleef nie, maar ek kon dit nie verdra nie. Dit het gevoel asof my lewe maar eintlik net ’n middelklas-tronk was.”

Die openhartige stuk deur Sarah Treleaven verwys na gemeenskappe op die forums Quora en Reddit vir vroue wat nes Laura voel. Daar is selfs ’n Facebook-bladsy, genaamd I Regret Having Children. Dit het meer as 5 000 lede.

“Ek het jaloers gevoel wanneer ek al my enkellopende vriendinne sien, of selfs my getroude maar kinderlose vriendinne,” het een van die lede van die gemeenskap op Facebook geskryf.

“Dit is asof ek dood is en my vorige lewe verloor het. Ek het ’n nuwe lewe binnegegaan met baie minder vreugde, seks, slaap, PRET. Jy verloor in werklikheid 99 persent van jou vryheid.”

Nog ’n vrou het openlik op Reddit gepraat: “Ek wens ek kon twee lewens hê: een saam met my man en vier kinders en een as ’n enkellopende vrou.

“Ek hou regtig van die lewe wat ek het, maar die ander een sou ook lekker gewees het. Ek het my in elk geval nog altyd af en toe verbeel ek is in die ander lewe. Wat jy ook al besluit om te doen, sorg net dat jy dol is oor die lewe wat jy kies.”

Dit lyk nou wel na ’n groeiende neiging, maar “moederlike spyt” is beslis niks nuuts nie.

Die skrywer Ayelet Waldman het in 2005 ’n artikel vir die New York Times geskryf oor die feit dat sy liewer is vir haar man as vir haar kinders.

“Ja, ek het vier kinders – maar ek is nie op een van hulle verlief nie,” het sy verklaar “Ek is op my man verlief.”

Die NYMag wys daarop dat Ayelet daarna genooi is om op Oprah se program te verskyn – waar die gehoor, wat uit moeders bestaan het, op haar gegil het.

Die 60-jarige Isabella Dutton het in 2012 ’n eerlike artikel vir The Daily Mail geskryf, waarin sy verklaar het dat sy net so voel.

“My seun Stuart was vyf dae oud toe die besef my soos ’n hou in die maag tref: Dit was die grootste fout van my lewe om ’n kind te hê.”

Sy het toe nog ’n kind, Jo, gehad (“ek glo dis uiters selfsugtig om net een kind te hê”) en toe ondervind sy presies dieselfde gevoelens van “afgetrokkenheid” en “belangeloosheid”.

“My vriende het hul asem ingetrek van skok wanneer ek hulle vertel het ek wens ek het nooit die kinders gehad nie. ‘Jy kan dit nie bedoel nie?’ Maar, natuurlik bedoel ek dit.”

Orna Donath, volgens The Guardian ’n Israelse sosioloog, “wat besluit het om nie kinders te hê nie en wat moeg was daarvan om as abnormaal beskou te word”, het in 2015 die ingewikkelde vraagstuk van moederlike berou, wat steeds taboe is, ondersoek.

Sy het ’n studiestuk gepubliseer wat gegrond was op onderhoude met 23 Israelse moeders, van wie sommige reeds kleinkinders gehad het. Dit was nie vroue wat teenstrydige gevoelens oor moederskap gehad het nie – hierdie vroue het in werklikheid gewens hulle kon dit “ongedaan” maak.

Sy het erken moederskap “kan ’n bron van persoonlike vervulling, plesier, liefde, trots, tevredenheid en blydskap” wees – maar vir baie vroue is dit nie die geval nie.

“Moederskap kan terselfdertyd ’n ryk van angs, hulpeloosheid, frustrasie, vyandigheid en teleurstelling wees, sowel as ’n arena van onderdrukking en ondergeskiktheid.”

Orna se verslag het internasionaal woede ontketen. Harald Martenstein, ’n Duitse rubriekskrywer, het uitgevaar dat hierdie spul wat “moederskap berou” eintlik kindermishandeling pleeg wanneer hulle hul eie kinders met hul kwade gevoelens oor moederskap konfronteer.

Maar vir sommige van die uiters ongelukkige vroue wat hul hart op die toenemende aantal aanlyn forums uitstort, het dit in werklikheid niks met die kinders self te doen nie – en dis iets wat hulle nooit sou droom om vir hul kinders te sê nie.

“Ja, ek berou dit absoluut,” het een van die vroue op Reddit geskryf. “Ek kan NOOIT hierdie dinge hardop sê nie en ek sal dit nooit doen nie. Ter inleiding sal ek sê my absolute prioriteit ten opsigte van alles is om nooit my seun te laat agterkom hoe ek voel nie; dis nie sy skuld nie.”

Voel jy ook so? Ons wil weet hoe jy voel, selfs al wil jy naamloos bly. Stuur gerus vir ons jou storie na web@huisgenoot.com