Dit is vakansietyd en die kinders is verveeld by die huis. Jy wil nie ry en goed vir die kinders gaan koop om te doen nie, want om dít elke dag te doen, kan ’n duur stokperdjie raak. Hier is agt aktiwiteite wat jy met die kinders kan doen met goed wat sommer in jou huis rondlê.

Maak speelklei:

Meng 1 koppie koekmeel, ’n ½ koppie sout, ’n halwe koppie water en kleursel. Roer totdat dit ’n sagte deeg vorm. Knie die deeg tot dit soos klei is. As jy die klei in ’n sakkie bêre wat goed verseël is, kan dit baie lank hou.

Bron: www.houkoers.co.za

Knoopkleur ’n T-hemp:

Vat ’n ou wit t-hemp. Om vertikale strepe te maak, rol die hemp van onder na die kraag en bind rekkies om die breedte van die hemp. Om horisontale strepe te maak, rol die hemp van die een mou na die ander mou en bind rekkies om die lengte van die hemp. Om sirkels te maak, lê die hemp plat neer en vat oral klei stukkies wat jy met rekkies vasbind.

Om die hemp te kleur kry kleursel en meng dit met louwarm water. Laat lê die hemp sowat 20 minute in die kleursel. Ná die 20 minute, sit die hemp in ’n plastieksak sodat die kleursel in die materiaal kan intrek. Los dit vier tot ses uur. Wanneer die vier tot ses uur verby is, trek handskoene aan, haal die rekkies af en spoel die kleursel met koue water uit. Gooi die hemp in die wasmasjien en was dit met koue water. Moenie ander kleure terselfdertyd was nie. Nadat die hemp klaar gewas is, maak dit droog in ’n tuimeldroër of hang dit aan die wasgoedlyn. Wanneer dit droog is, trek hom aan!

Bron: www.wikihow.com

Maak ’n spaarvarkie met ’n ballon:

Maak eers die papiermaché deur gelyke hoeveelhede water en meel te meng. Sny repe koerantpapier op. Blaas ’n ballon op. Vat ’n reep koerantpapier, trek dit deur die water en meel mengsel en plak dit op die ballon. Hou so aan tot die ballon dik toegeplak is. Om die spaarvarkie se voete te maak, maak ’n bolletjie koerantpapier nat in die papier mache en sit dit waar jy dit wil hê. Vat repe koerantpapier en plak dit oor die bolletjies soos wat jy met die res van die ballon gemaak het. Doen dieselfde met die spaarvarkie se neus. Laat die varkie goed droog word. Verf die spaarvarkie en maak vir hom ’n gesig. Sny ’n gleuf aan die bokant van die varkie waar jy jou geld kan ingooi.

Bron: http://www.dltk-kids.com/type/how_to_paper_mache.htm

Maak horingkies van Rice Krispies:

Meng ses koppies Rice Krispies en een blik Caramel Treat. Maak ’n bolletjie met die mengsel en sit dit op ’n roomyshoringkie.

Maak ’n lantern uit ’n blikkie:

Vat enige soort blik wat jou ma wil weggooi, soos ’n koffieblik of ’n ertjiesblikkie. Maak dit vol water en vries dit. Wanneer die water geys is, sit die blik op ’n handdoek. Vat ’n hamer en ’n spyker en kap gate in die blik. Die gate kan in patrone wees. Laat die water smelt, gooi sand onder in die blik en druk ’n kers in die sand. Daar het jy ’n blik lantern!

Bron: http://www.cutoutandkeep.net/projects/lanterns

Maak ’n Kerskaartjie met gesmelte kryt:

Besluit op watter kleur kryt jy gaan gebruik en trek die kryte se buitenste papier af. Sit die karton waarmee jy die kaartjie wil maak, op ’n plat oppervlak neer. Maak die kryt skerp met ’n skerpmaker en laat die skaafsels op die karton val. Wanneer jy genoeg skaafsels het om jou karton mee vol te maak, sit waspapier oor. Stryk met ’n strykyster, wat op lae hitte gestel is, oor die waspapier tot die kryt smelt. Vou die karton dubbel en jy het ’n kaartjie of knip ’n vorm uit die karton en skryf jou kersboodskap op die agterkant.

Bron: http://www.kidsplayandcreate.com/crayon-melt/

Maak hangertjies of armband:

Al wat jy nodig is, is verskillende krale en tou. Ryg die krale in die tou, maak dit so lank jy dit wil hê en jy het ’n Kersgeskenk vir iemand.

Maak ’n handpop:

Vat kouse wat nie meer maatjies het nie en maak ’n handpop daarmee. Vir die pop se oë en neus, gebruik krale of knope en vir die tong, sny ’n stukkie rooi materiaal uit. Sit jou hand in die kous en maak ’n C met jou vingers. In die middel van die kous, tussen jou duim en voorvinger, werk jy die tong vas. Jy kan jou handpop nog meer versier met linte en wol. Maak ’n paar handpoppe en hou dan poppekas saam met jou maats.

- Hilda Fourie