[caption id="attachment_46359" align="alignnone" width="600"]Foto: storyvillegirl op Flickr Foto: Storyvillegirl op Flickr[/caption]

DAAR is op die oomblik ’n vloedgolf  babas in my lewe. Drie van my vriende het babas gehad, my jongste niggie verwag vandeesweek haar eerste baba en die koninklike baba het ook opgedaag. As ’n deurwinterde ma van drie wonder ek dikwels wat ek wens ek geweet het voor my kleintjies gebore is. Watter raad sal ek myself gee as dit ek is wat vandeesweek my eerste baba in die lewe bring?

1 Koester realistiese verwagtinge

Dis ’n leerkurwe vir die nuwe ma én die nuwe baba. Jy sal dit nie altyd volmaak regkry nie en jou baba sal ook nie altyd die volmaakte baba wees wat ’n mens in advertensies sien nie. Daar sal dae wees wanneer alles net te veel is en jy voel asof jy ’n mislukking as ma is. Moenie verwag om perfek te wees nie. Jou baba sal dalk nie deurslaap in dieselfde stadium as ander babas nie. Jou baba sal dalk selfs ’n bietjie lelik wees en puisies hê. Jou kleuter kan dalk in die openbaar vloerstuipe kry en moenie verbaas wees as jy in trane uitbars omdat alles net te veel vir jou is nie. Wees rustig. Moenie te streng met jouself wees – of met jou baba nie.

2 ’n Rigiede roetine is ’n resep vir stres

Jy smag dalk na ’n bietjie voorspelbaarheid in jou lewe, maar jou baba het heel moontlik ander plannetjies. Pak liewer elke dag op sy eie aan, veral in die eerste paar weke wanneer jou baba moet kan voed wanneer hy wil sodat jou melk gereeld kan begin vloei. Probeer eers omtrent ’n maand later om jou baba aan ’n meer voorspelbare roetine gewoond te maak.

3 Moenie jou baba met ander babas vergelyk nie

Dank Vader jou baba is uniek – sy is wonderbaarlik enig in haar soort. Die ander kant van die saak is natuurlik dat sy dalk nie so vinnig soos die baba langsaan ontwikkel nie – of dalk vinniger. Gun haar die ruimte om volgens haar eie genetiese bloudruk te ontwikkel.

4 Jou baba sal meer huil en minder slaap as wat jy jou ooit kan indink

Jy’s voos van min slaap en sal waarskynlik paniekbevange begin soek na redes waarom jou baba so baie huil. Dit is natuurlik die wreedste waarheid van die eerste drie maande: Jy was nog nooit so moeg of so hulpeloos nie. Die goeie nuus is dat die gehuilery teen omtrent 12 weke bedaar en dat jou baba heel moontlik voor ses maande oud sal begin deurslaap – en jammer dat die goeie nuus ’n leeftyd ver klink!

5 Almal gaan skielik ’n kenner op die gebied van jou baba wees

Glo my, jy gaan soms voel asof jy jou in die badkamer wil toesluit en vir party mense wil wegkruip. Volg jou instink en besluit self wat jou ouerskapstyl gaan wees. Omring jou van daar met mense wat met jou styl saamstem. Raad wat hiervan verskil sal jou net verwar.

6 Jy is jou baba se belangrikste speelding

Jy sal hom leer oor die wêreld, sy emosies en hom laat veilig voel, selfs met net ’n bietjie oogkontak.

Geniet jou kleintjie – die gesegde “geniet die reis” was nog nooit so waar soos juis nou nie.

- Meg Faure

Meg small Meg Faure (B.Sc OT, OTR) het aan die Kaapstadse Universiteit as arbeidsterapeut gegradueer en werk al die afgelope 13 jaar spesifiek met neulerige babas en dié met slaap- en voedingsprobleme. Sy is die eienaar van die Baby Sense-maatskappy vir wie sy babaprodukte ontwikkel en is ook medeskrywer van die boeke Baby Sense, Sleep Sense, Feeding Sense en Your Sensory Baby. Sy bied ook Baby Sense-seminare landwyd aan. Gaan na http://babysense.co.za/seminars/ vir nog inligting hieroor.