'n Paar handige wenke om tieners te help spaar sodat hulle kan koop wat hul graag wil hê:

  1. Verkoop goed wat jy nie meer gebruik nie, bv. elektroniese ware en PlayStation- of Xbox-speletjies wat jy ontgroei het. Adverteer dit op die internet by bv. Gumtree of Bid or Buy of plak ’n kennisgewing op in jou plaaslike supermark.
  2. Sê vir jou ouers jy wil graag spaar vir ’n duur item en vra of hulle jou sal subsidieer deur vir jou ’n rand te gee vir elke rand wat jy in jou spaarrekening inbetaal.
  3. Vind uit van watter take jou ouers die minste hou, bv. gras sny, geute skoonmaak, vensters was en onkruid uittrek. Bied aan om verantwoordelikheid daarvoor oor te neem en onderhandel oor betaling. Jy kan dalk by bure ook gaan hoor of hulle jou diens nodig het.
  4. Stel ’n begroting op vir dit wat jy nodig het, bv. toiletware, die haarkapper, mooimaakgoed ens. Vra dat jou ouers jou sakgeld vergroot om hierdie persoonlike benodigdhede in te sluit. Nou is jou uitdaging om te kyk hoeveel jy weekliks of maandeliks van hierdie bedrag kan afknyp sodat jy dit kan spaar.
  5. Neem bestellings by jou vriende en bak een keer per week kolwyntjies teen betaling.

Bron: Elna van der Merwe