• Maak ’n foto-collage met stukkies kleurvolle papier wat die leerders uit tydskrifte skeur. Leerders plak dan dié stukkies gekleurde papier bo-oor ’n skets van ’n troeteldier.

  • Gebruik papierborde om diere-maskers te maak. Leerders kan die papierborde verf, prente daarop plak of met kryte die gesigte teken. Maak dan twee klein gaatjies aan weerskante van die bord en knoop ’n stukkie tou of rek daardeur om ’n masker te maak.

  • Maak verkleurmannetjies met karton en kleurvolle stukke garing. Knip die vorm van verkleurmannetjies vooraf uit stukke dik karton. Laat die leerders by die huis vra vir kleurvolle garing wat hulle dan gebruik om die verkleurmannetjie se lyf “in te kleur” deur die garing om die lyfies te draai. Gebruik ook sommer plastiekogies vir finale afronding.

  • Vir ’n eenvoudige klasaktiwiteit kan leerders klein bruinpapiersakke gebruik om jellievisse te maak. Vou die onderkant van die papiersak plat om die “kop” van die jellievis te maak. Gebruik dan ’n skêr met ’n mooi patroon om die “tentakels” van die jellievis uit te knip. Laastens kan leerders hul jellievisse in verskillende kleure verf en plastiekogies daarop plak.

  • Nóg ’n idee met papierborde: Gebruik ’n papierbord as die lyf van ’n skilpad of ander klein diere soos ’n hamster of hasie. Knip die kop en bene uit ander stukke karton en plak dit aan die papierbord vas. Leerders kan dan dié tuisgemaakte diertjie versier met verf, gekleurde plastiek of sommer met inkleurkryte.