[caption id="attachment_48476" align="alignnone" width="600"]Foto: The Jordan Collective op Flickr Foto: The Jordan Collective op Flickr[/caption]

EK WENS ek kon aan ’n ouerskapsbesluit dink wat nie ’n skadukant het nie. Omtrent elke besluit wat ’n mens in die ouerskapsreis maak moet versigtig oorweeg en die voor- en nadele bekyk word.

1 Kies om tuis te bly

Ek het sewe jaar lank by die huis gebly nadat my eerste baba gebore is en was ’n regte tuisblyma vir James en Alex. Ek het my boeke in die nag geskryf maar basies was ek ’n 100 persent-ma. Dit klink dalk of ek geseënd was, maar ek beloof jou ek het my oomblikke gehad. Daar was tye dat die alledaagse take my heeltemal oorweldig het. Ek het soms na grootmensgeselskap gesmag en as my man dit gewaag het om 15 minute laat by die huis in te stap, het ek gesorg dat hy dit weet. En dan was daar die selfvertroueding – bring genoeg tyd saam met ’n kleuter deur en jy sal wonder of jy ooit genoeg moed bymekaar gaan skraap om terug werk toe te keer.

2 Kies ’n fopspeen

Alle babas moet suig – ek bedoel, nie net met voedingstye nie, maar ook om hulleself tot bedaring te bring. Ons noem dit nie-voedsame suig. Dis noodsaaklik om jou pasgeborene kalm te hou. Ek sou selfs sover gaan om te sê dat suig nie ’n keuse is nie. Die keuse is waaraan jou baba moet suig. Daar is drie moontlikhede:

  • Jou baba kan aan die bors of bottel suig (waar hy ook al sy melk kry) en van daardie gesuig sal nie wees om kos te kry nie, maar klein, ligte tong-fladderinkies om homself te kalmeer.

  • Jou baba kan sy duim suig – dis ’n goeie keuse omdat jou kleinding homself dan baie vroeër as ander babas begin kalmeer, MAAR probeer om eendag van daai duim ontslae te raak! My Emily is al agt en sy suig nog steeds duim, en ek kwel my vreeslik oor wat dit aan haar tande kan doen.

  • En dan is daar natuurlik die fopspeen – fantasties want jy kan dit maklik op drie jaar oud weggooi, MAAR dan sal jy waarskynlik in die eerste jaar die fopspeendril moet doen en sewe keer per nag moet opstaan om dit terug in haar mondjie te druk.

Ja, alles is maar gemengde seëninge.

3 Kies om in te ent

Na my mening is dit nie eintlik ’n keuse wat jy maak nie – dit beskerm babas se lewe en is daarom vir almal noodsaaklik, maar jy sal ook baie rillers hoor (die meeste ongegrond) en jou baba gaan ’n bietjie olik voel weens die pyn van die naald en sy sal agterna ’n paar uur lank moeilikrig wees. Soos ek gesê het, ’n gemengde seëning, maar darem net vir ’n ruk.

4 Kies om baba aan die slaap te wieg

Ek is mal oor die gevoel van ’n baba wat in my arms aan die slaap raak, die warm asempie wat in my nek blaas en om weg te dommel met my kosbaarste besitting in my arms. Om jou baba saans aan die slaap te wieg klink romanties, maar tweeuur in die oggend is dit nie so ’n soet ervaring nie. Die hartseer kant van dié gemengde seëning is dat jou baba nie die verskil verstaan nie, so wat jy om 6 nm. doen gaan sy om 2 vm. ook verwag. Gelukkig skop jou baba se geheue en slaapverwagtinge eers ná vier maande in en dis dus eers dan dat die seëning gemeng word.

Gemengde seëninge waar jy ook al kyk en elke ouer oorweeg hulle en maak hul eie besluit. En dis hoekom ouerskap so persoonlik is!

As ek terugdink, is daar darem een besluit wat ons as ouers geneem het wat nie ’n gemengde seëning was nie: om ons drie spesiale kinders te hê. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek my nie verwonder aan hul verstommende energie en die lieflike mense wat hulle is nie – geen gemengde seëninge daar nie!

- Meg Faure

Meg small Meg Faure (B.Sc OT, OTR) het aan die Kaapstadse Universiteit as arbeidsterapeut gegradueer en werk al die afgelope 13 jaar spesifiek met neulerige babas en dié met slaap- en voedingsprobleme. Sy is die eienaar van die Baby Sense-maatskappy vir wie sy babaprodukte ontwikkel en is ook medeskrywer van die boeke Baby Sense, Sleep Sense, Feeding Sense en Your Sensory Baby. Sy bied ook Baby Sense-seminare landwyd aan.

Lees Meg se vorige blog vir Huisgenoot:

6 allerbelangrike wenke vir nuwe ma’s