Ons onderwysblogger wonder of ouers altyd besef wat dit onderwysers kos om hul kinders op skool te onderrig en hoe hard onderwysers vir hul kinders werk. 

“Moenie so lelik praat nie!”

“Tel asseblief daardie papiere op en maak skoon.”

“Ag, toemaar, kom ons vee daardie trane af.”

“Moenie moed verloor nie, kom ons probeer weer.”

Die woorde hierbo kom ewe dikwels uit onderwysers se mond as uit ouers s’n. Ek dink soms baie ouers vergeet skoon wat hul onderwysers in die skool vir hulle beteken het die oomblik as hul beskermingsdrang oorneem wanneer hulle hul bondeltjie vreugde die eerste keer vashou. Samewerking tussen ouers en onderwysers – tot voordeel van die kind! – is tog so belangrik. Ons werk nie teen mekaar nie, ons werk saam met mekaar. Hier is dus ’n paar dinge wat onnies wens ouers het geweet . . . 1 Onderwysers is nie die aaklige drake wat kinders soms kom vertel hulle is nie. Geen onnie sal ’n kind moedswillig benadeel nie. Dis baie belangrik om na albei kante van ’n saak te kyk indien ’n probleem ontstaan. By een van ons oueraande het ’n ouer ingestap en kliphard vir sy seun gevra: “Is dit nou die heks waarvoor jy so bang is?” Die onderwyser het die ouers vriendelik gegroet en hulle genooi om te sit.  Die aanvallende pa het sy deuntjie vinnig verander nadat die onderwyser rustig verduidelik het wat regtig in die klas aangaan. Sy onskuldige Okkie was toe nie so onskuldig nie. Hy gee nie aandag in die klas nie, doen selde sy huiswerk en vergeet sy boeke. Ná ’n goeie gesprek tussen die ouer, onderwyser en leerder, het die pa gesê: “Seun, ek hou baie van hierdie onderwyser. Dis tyd dat jy jou sokkies optrek. Van vandag af vat ek jou vas!” En aan die onderwyser: “As daar enige dag, weer enige probleem met sy werk is, bel my asseblief dadelik. En baie dankie dat u bereid is om ekstra klas te gee sodat hy dalk kan deurkom.” Die uiteinde van die saak was dat Okkie twee keer per week ekstra les gehad en ’n baie goeie verstandhouding met die onderwyser ontwikkel het. Hy blom elke dag in die klas, sy werk is gedoen – en hy het deurgekom! En die belangrikste: Die moedswillige kind wat nooit belanggestel het in die werk nie, stap nou elke dag met ’n glimlag die klas binne! 2 Onderwysers stap die ekstra myl vir ander mense se kinders en offer soms kosbare tyd op wat vir hul eie gesin bedoel is. Ek wonder of ouers besef hoeveel ekstra ure deur onnies buite die klaskamer ingeploeg word – ure se afrigting van buitemuurse aktiwiteite en die bywoon van skoolaktiwiteite en wedstryde. Ek hoor nou die dag by ’n kollega die volgende: Sy vrou is ook in die onderwys. Ná baie ure se oefening en voorbereiding tree haar skool se revue-groep ’n paar aande in ’n teater op. Vooraf is briewe met al die reëlings en tye uitgestuur.Elke aand verloop alles glad. Hulle kom egter eers nege-uur in die aand by die skool terug. Die laaste aand word al die leerders deur hul ouers opgelaai, behalwe vir twee. Die onderwyseres sit en wag, want sy kan nie die kinders so laat in die aand by die skool los nie. Ná ’n halfuur begin sy die ouers bel, maar kry geen antwoord nie. Nadat sy langer as ’n uur in die donker saam met die kinders by die skoolhek sit en wag het, hou ’n motor stil. Die kinders hardloop na hul ouers toe, klim in die kar, en daar gaan hulle . . . sonder dat die ouers om verskoning vra dat hulle so laat is of dankie sê dat sy hul kinders opgepas het. Menige onderwyser het al presies dieselfde oorgekom, of sommer self die leerders by hul huis gaan aflaai. 3 Die werklikheid van ’n onderwyser se dagtaak word dikwels onderskat. Ouers besef nie watter eise elke dag aan onnies gestel word nie: periode ná periode met klasse van 35 tot 40 leerders. Dikwels is sommige leerders baie ongeskik en ongehoorsaam. Daar’s baie voorbereiding; baie nasienwerk, om nie te praat van terreindiens voor skool, ná skool en tydens pouse nie, en buitemuurse aktiwiteite en vergaderings buite skooltyd. En dan kry onderwysers oproepe soos die volgende: “Sannie het al weer loop en skinder en stories oor my kind vertel. Julle doen niks aan die saak nie! Ek dink ek moet dit maar verder voer!” Liewe ouers, ons as onderwysers het nie beheer oor wat leerders tydens skoolure êrens op die terrein of met hul selfone vir mekaar of van mekaar sê nie . . . 4 Onderwysers waardeer ouers se samewerking en ondersteuning ongelooflik baie.  Daar ontstaan probleme by ’n skool wanneer leerders hulle swak gedra, in stryd met die skoolreëls optree, nie hul plig nakom ten opsigte van huiswerk nie, ensovoorts. As so ’n situasie ontstaan, waardeer onderwysers dit wanneer ouers hulle bel of kom raadpleeg en vra hoe hulle kan help om die probleem op te los, of as hulle die skool en onderwysers ondersteun in die stappe wat teen ’n leerling gedoen is.

Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar. Wanneer leerders dit moeilik maak vir onderwysers by die skool, is daar dikwels ouers wat slegs die skool en onderwysers kritiseer en nie saamwerk om die probleem op te los nie. Ek het eenkeer by ’n ander skool langs die sportveld ’n pa hoor sê: “Jannie kan nie vandag speel nie, hy sit alweer detensie! Hahaha! Maar ek het vir hom gesê: Gee hulle gas, my seun! Ek het ook toe ek in die skool was die onnies lekker hel gegee!” Ai.  Kinders se optrede by die skool is ’n weerspieëling van hul opvoeding by die huis . . .

Ek het hierbo maar net ’n paar sake aangeraak. Daar is nog soveel meer. Ek hoor graag wat ander onnies wens hul skool se ouers het geweet.

Gelukkig weet ons as onderwysers ook dat daar soveel wonderlike ouers is, wat hul kinders, die onderwysers en die skole pragtig ondersteun. En dis nog iets wat onderwysers wens ouers het geweet: HOEVEEL ONS DIT WAARDEER!

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

Die krag van woorde

Kom deel in die pret!

8 redes waarom onderwys die moeite werd is

En nou sing en dans ons!

Onnies: Ses wenke vir die derde kwartaal

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens