Lesers van die Facebook-blaaie Kopskuif-Onnies en Teachers for Change het heelwat raad vir ’n jong onderwyser se eerste werkonderhoud.

  1. Lees die posadvertensie goed deur. In die meeste gevalle gaan daar meer van jou verwag word as net ’n onderwyskwalifikasie.
  2. Doen soveel moontlik “navorsing” oor die skool deur mense in die gemeenskap uit te vra. As jy vooraf met leerders kan gesels oor wat hulle in die skool sou wou verander, gryp die geleentheid aan. Dit sal jou ’n goeie insig in die skool gee.
  3. Stap die vertrek met selfvertroue binne en groet elkeen met die hand. Spreek mense op hul titels aan.
  4. Sit regop, praat duidelik en moenie vroetel nie. Maak oogkontak wanneer jy praat.
  5. As jy iets nie weet nie, wees eerlik daaroor. Moenie antwoord wat jy glo die paneel wil hoor nie. Dit help nie om mooi broodjies te bak en dan later ongelukkig te wees in die pos nie.
  6. As jy nie die vraag verstaan nie, moenie gorrel nie. Vra dat die vraagsteller uitbrei.
  7. Ken jou sterk en swak punte. Wat kan jy bied wat jou bo ander kandidate laat uitstaan? (Byvoorbeeld buitemuurse vaardighede of ekstra kursusse wat jy gevolg het.)
  8. Wees jouself! Hulle wil sien wie en hoe jy is.
  9. Vrae wat dikwels opduik (en waarop jy dus kan voorberei):

  • Hoe sal jy moeilike leerders of ouers benader/ klasdissipline handhaaf?
  • Wat is jou voorstelle vir geldinsameling?
  • Watter hulpmiddels gebruik jy om les-aanbiedings interessant te maak?
  • Wat is jou sterk en swak punte?

  1. Maak seker jou passie vir jou vak en kinders kom duidelik na vore.
  2. Wees op hoogte van die Caps-kurrikulum.
  3. Wees optimisties oor die veranderinge in die onderwys – ’n onderhoud is nie die plek om te kla oor die departement, skoolhandboekkrisis of kurrikulumveranderings nie. Skole soek onderwysers wat ’n verskil wil maak.

Drie skoolhoofde van Amerika skryf ook in hul blog (http://curtrees.com/2011/04/20/teacher-interview-tips-from-the-principal/) die heel belangrikste is dat jy jouself moet wees. “Die feit dat jy vir ’n onderhoud genooi word, wys jy is geskik vir die pos. Nou soek hulle net tussen al die geskikte kandidate die een uit wat die beste by die skool sal pas.”

Ander dinge wat dié skoolhoofde uitlig, sluit in:

  1. As dit jou eerste pos is, moenie voorgee jy weet alles nie. Die paneel kan op jou CV sien jy het min ervaring. As jou gebrek aan ervaring vir die skool ’n probleem was, sou hulle jou nie vir die onderhoud genooi het nie.
  2. Trek iets aan wat jou selfvertroue gee, maar wat professioneel lyk. As jy wonder of jy onvanpas aangetrek is, vra jouself af of jy dieselfde uitrusting na ’n skoolgeleentheid soos ’n oueraand kan aantrek.
  3. Gun jouself genoeg tyd om by die onderhoudplek uit te kom sonder om te jaag. Staan betyds op en eet iets voor die onderhoud. Maak vooraf seker waarheen jy moet ry. Luister op pad na jou gunstelingmusiek.
  4. Kom vroeg by die lokaal aan, maar gaan eers omtrent 15 minute voor die tyd die gebou binne.
  5. Skakel jou foon af voor hulle jou roep vir die onderhoud.
  6. Stap die lokaal binne, groet almal met ’n ferm handdruk, glimlag en sê: “Dankie vir hierdie geleentheid.”
  7. As jy oor jou swak punte uitgevra word, moenie iets antwoord soos “ek werk te hard”, “ek gee te veel om” of “ek is ’n perfeksionis” nie. Die paneel sal deur jou sien. Harde werk, deernis en ’n fokus op gehalte word in elk geval van alle onderwysers verwag.
  8. Selfs al kan jy ’n vraag met een woord beantwoord, moenie. Motiveer jou antwoord met ’n voorbeeld, as jy kan. Moet ook nie eindeloos voortrammel op ’n vraag nie. Wees saaklik.
  9. Almal wil ’n pos hê, maar waarom wil jy daardie spesifieke pos hê? Doen jou huiswerk oor wat die skool uniek maak. Besoek byvoorbeeld hul webtuiste.
  10. Wanneer die paneel jou die geleentheid gee om vrae aan hulle te stel, moet jy iets vra. Maar moet ook nie die vrae die een ná die ander inryg nie. Dit is egter ook nie die plek waar jy moet uitvra oor salaris, werkure of die skool se steun vir jou verdere studie nie. Vra liewer “prosedurele vrae”, soos byvoorbeeld wat die skool se ingesteldheid teenoor leergestremde kinders is of moontlike mentorskapprogramme.
  11. As jy nie die pos kry nie, tree steeds professioneel op. Skoolhoofde gesels dikwels met mekaar en sal uitstaande kandidate wat hulle nie kon aanstel nie by ander skoolhoofde aanbeveel.
  12. As jy as deel van die onderhoud dalk ’n les moet aanbied, kan jy wenke kry in hierdie artikel: http://www.guardian.co.uk/teacher-network/teacher-blog/2013/apr/16/interview-tips-teachers-avoid-common-mistakes