Die lesersgemeenskap van ons Facebook-blaaie Kopskuif-Onnies en Teachers for Change het dié slim planne gehad om geld vir die skool in te samel.

  • Die kostrollieprojek is ’n groot gunsteling. Vra leerders van die skool om elkeen ’n nie-bederfbare kosproduk skool toe bring (blikkies, pakkies souse, skoonmaakmiddels ens.), en verkoop looitjies met dié kruideniersware as prys. Met die huidige ekonomie sal baie mense ’n looitjie koop om ’n maand se kruideniersware te wen. Jy kan natuurlik ook looitjies vir ander pryse verkoop, en winkels in jul gemeenskap vra om dié pryse te borg.
  • Borg-’n-woord. As ’n variasie op leerders wat volwassenes vra om hulle te borg vir rondtes om die skoolveld/lengtes in die swembad, kan volwassenes leerders borg per woord wat hulle leer spel. Leerders kry ’n woordelys wat hulle moet leer, en na gelang van hoe goed hulle in die spelkompetisie doen, betaal die volwassenes hulle.
  • Voer ’n poppekas op en vra toegang. Ander weergawes: ’n talentkonsert/karaoke-aand waar toegang gevra word.
  • Betrek die hele gemeenskap by ’n 4x4-dag. Gholfdae, kaskarwedrenne en wynveilings kan ook stewige bedrae insamel.
  • Op ’n kosproe-aand kies elke klas ’n ander gereg, en ouers koop boekies met koskaartjies om klein porsies te proe.
  • Stal leerders se kuns uit en verkoop dit. Maak ook kaartjies/kalenders met kinderkuns wat in die gemeenskap verkoop kan word.
  • Civvie-dae (waar leerders betaal om sonder skooldrag skool toe te kom) is alom gewild.
  • Hou ’n speletjiesaand waar leerders klein bedraggies betaal om aan individuele speletjies deel te neem. (Noem dit A Minute To Win It, na gelang van die gewilde TV-reeks.)
  • Laas klasse beurte maak om op Vrydae ’n koekverkoping aan te bied.
  • Vra leerders om bestanddele by te dra, en verkoop ete-kaartjies vir ’n potjiekos-aand. Dis gewoonlik ook ’n lekker kuiergeleentheid vir die ouers.
  • Verkoop warmsjokolade oor pouses teen R5 per koppie. Dit verkoop soos soetkoek in die winter.
  • ’n Muntlegging is baie retro en baie gewild! Laat die kinders hul munte uitpak op ’n prentjie, of teken ’n paadjie.
  • Hou ’n fliek-aand, met ’n DVD wat met ’n data-projektor vertoon word.
  • Verkoop ete-kaartjies vir braaivleis en pap, hamburgers of bunny-chows.
  • Reël ’n oggendtee met interessante sprekers of kunstenaars, of hou ’n modeparade van matriekafskeidrokke.
  • Idee vir ’n kleuterskool: Laat die kinders R15 betaal vir ’n ete waar hulle ’n worsbroodjie en ’n energiedrankie (in ’n plastiekbottel) kry. Vra die kinders om die res van die jaar hul kleingeld in die plastiekbottel te gooi en terug te bring skool toe – dit bevat sowat R40 wanneer die botteltjie vol is.
  • Verkoop kaartjies aan die ouers vir ’n lentedans, of hou ’n sokkie vir senior skoolgrade.
  • Vra donasies van bekendes (soos ’n rugbytrui van ’n Springbok) en hou ’n veiling.
  • Vra die ouers om hul kaste reg te pak en tweedehandse artikels te skenk vir ’n reuse garage-verkoping. As alternatief kan mense ook boeke skenk vir ’n reuse boekverkoping.